Die Lelike Eendjie (Woordfees inskrywing)

 

DIE LELIKE EENDJIE

VDS Brink




“Meraai! Wakker word, jy is al weer laat!”

 “Jaaa maaa!” Meraai staan vinnig op, skuifel met haar dik beentjies val-val oor die goed wat in die gang rond lê. Sy kyk in die spieël deur die ou goue raam brilletjie en kam haar hare. Die puisies op haar wange gloei in die kerslig.

“Oom Piet is nou hier en hoe moet ek jou by die skool kry as jy hom elke dag laat wag?”

“Jaa maa!”

Sy voel die bangheid in haar wakker word en haar hand begin weer bewe. Oom Piet en die pad dorp toe ... Sy gaan staan voor die huis, die ryp lê spierwit en sy bewe van die koue. Die vuil Datsun bakkie kom om die draai. Sy klim in. “Hallo Meraaitjie Koekemoer, jy lyk weer pragtig vanmôre!”

Meraai skuif sover moontlik van hom weg en sy linkerhand wat heeltyd op die rathefboom rus ...

Sy sit haar tas in die ry neer en kyk na die dogters speelgrond. Groepies staan rond, maar sy gaan staan teen die draad en kyk na die son wat opkom.

“Goeie môre klas,” sê Meneer Steenkamp.

“Goeie môre Meneer!”

Net toe Meraai gaan sit skop Koos haar stoel weg, sy val. Die hele klas lag, “Haaa!”

Meneer kyk om van die swartbord, “Marilyn, het jy seergekry?”

Die trane is vlak in haar oë en sy kyk net vir haar tone. Toe sy stadig opkyk, sien sy hom voor in die middel sit en hy kyk om. Hy lyk hartseer. Hy knik vir haar … Jean-Pierre.

 

***

 

Dit is pouse. “Marilyn, sal jy gou agter bly? Sit gou, ek wil met jou praat.”

“Ek sien dat die kinders met jou spot. Ek wens ek kan Koos ʼn klap gee, hy is skelm want ek sien nie wat hy doen nie. Jy moet weet dat ek hom dophou en as ek hom uitvang het hy probleme.”

“…uh ... uh ... dankie Meneer …”

“Marilyn, jy kry swaar met Wiskunde, en ek wil dat jy elke tweede dag eerste pouse agterbly. Ons gaan dit maak ek belowe jou!”

“Uh … dankie Meneer …Meneer kan ek iets vra?”

“Vra maar my kind?”

“Hoekom noem Meneer en Jean-Pierre my Marilyn?”

“Ek het nie ʼn vrou nie en wil ook nie een hê nie. Ek bewonder vrouens wat opstaan en uitstyg bo alles. Marilyn Monroe is my en JP se groot heldin. Ons twee het oor jou gepraat, dat jy nou swaar kry maar ons weet dat jy eendag die mooiste en slimste sal wees. Jy is nes Marilyn!”

 

***

 

“Hallo Pa!”

“JP! Hoe was die rugby oefening?”

“Ag Pa, ek speel maar net omdat daar te min seuns is. Met Koos as kaptein en tussen hom en meneer Hanekom is dit eintlik maar sleg. Ag wat, deel van die lewe!”

“Jong en tussen ons, Nico Hanekom en Koos senior saam is slegte nuus vir ons dorp. Nou het hulle vir Dominee ook in hul web ingetrek. Hier kom groot moeilikheid.”

Daar is ʼn klop aan die deur, “Kom binne!”

Hy stap in met ʼn breë glimlag, “Marius Steenkamp, wat ʼn verassing!”

“Ou Louis en Jean-Pierre, ek het groot nuus, gooi daar vir ons ʼn dop!”

“Ag man, jy en jou stories, ek het juis ‘n vyf jaar oue Roodeberg hier. Reg vir jou?”

“Jou ou skelm! Roodeberg is mos onwettig, maar jy weet natuurlik hoe om dit te omseil want jy en Sersant is mos pelle, jou ou rakker, moenie eers vra nie!”

“JP, kom jy ook hier, maar nie ʼn druppel vir jou nie, hoor jy my?”

“Ja Meneer,” lag JP saam.

Meneer maak die koevert stadig oop en sit ʼn brief voor hulle neer, “Whaa-Laaa! Rekord eksamen uitslae, JP jy is die eerste outjie van Hoërskool AF Liebenberg wat dit ooit kon regkry, agt A simbole en 93% vir Wiskunde, jou ou doring!!”

Louis en JP glo nie wat hulle hoor nie en lag van oor tot oor, en toe … “JP wat is dit nou?”

Jean-Pierre begin rukkend snik, Marius en Louis hou hom styf vas. “Pappa, Meneer julle glo al die jare in my. Toe mamma verlede jaar weg is hemel toe het Pappa na my gekyk en my in myself laat glo.”

Hy snik, “en Meneer het ure na skool met my gesit en my sin, cos en tan geleer en geleer. Ek is net wat julle van my gemaak het. Jammer Pappa, dis mos alles weer Meneer se skuld want ek gaan ʼn ingenieur word!”

Die drie teug aan hulle drankies en Louis rond alles af met ʼn heerlike melktert.

“Terwyl jy nou hier is, Marius jy kan dalk raad gee. JP, ons sal moet kies oor die diensplig ding. Die nuwe wet sê dat dit nou twee jaar vir almal is, maar jy kan gaan as jy eers klaar geleer het.”

“Pappa en Meneer, dis al waaroor die ouens praat en die meeste voel dat ou maar moet gaan en dit klaar kry. Ek kan dan daardie tyd al my Wiskunde een sommer deur Unisa klaar maak.”

“Louis, ek ondersteun dit. Ook omdat dit vir ʼn jong outjie goed is om bietjie fisies uitgedaag te word.”

Die drie sit stil en weet dat die antwoord op die tafel is.

“Ag man dis tog niks,” antwoord Louis terwyl hy ʼn diep sluk neem, “Nou eers daardie lisensie kry en JP, as jy my kar stamp wiks ek vir jou!”

 

***

 

“Het jy al ʼn skiet gekry?” vra Annie.

“Ja en whê tog!” antwoord Susan.

“Vertel! By wie?”

“JP natuurlik!”

“Gelukkige duiwel! Dis net omdat jou pa en oom Louis elke dag in die hof vir mekaar gluur. Ek weet sommer hulle het dit vooraf gereël.”

Susan bly ʼn rukkie stil, sluk twee keer, “Issie! Hy gaan nog my kêrel word. En jy?”

“Koos homself, meneer macho!”

 

***

 

“Marilyn, kan ek jou iets persoonlik vra? “

“Meneer mag maar.”

“Het jy al iemand om mee saam te gaan na die matriekafskeid?”

Meraai begin sag huil. “Meneer, daar is dertien dogters en twaalf seuns. Niemand gaan my vra nie en waar moet ek ʼn rok kry? Ma se pensioen is skaars genoeg vir ons om te eet.”

“My kind, kan ek vir jou geld vir ʼn rok gee? Asseblief?”

“Maar Meneer dan gaan ek net heel aand in die hoek sit. Maar nes hier op die speelgrond. Nee wat, ek bly liewer by die huis.”

“Marilyn iets anders, jy het jou Wiskunde in die rekordeksamen deurgekom. Maar kom ons wees eerlik, daar is nog baie werk voor tot die einde van die jaar.”

“Ek is reg meneer, ek belowe om so aan te hou. Ek moet dit net deurkom!”

 

***

 

Daar is ʼn groot opgewondheid. Meneer het die bruin koevert klaar opgeskeur. Almal gil, “Plak op Meneer!”

Marius steek die papier vas maar hou sy hand daarop. “Haal weg Meneer!”

“Ouens net gou dit, vir die eerste keer het ons agt A simbole! Jean–Pierre!!”

“Geluk ou JP!” skree almal.

“En dan is daar net een her-eksamen vir net een vak. Ook dit is ʼn rekord vir ons skool. Geluk ouens!”

Die hele groep draf met ʼn groot geraas af in die straat na Oom Jan se kafee. “Margate hier kom ons!”

Meraai staan eenkant, sy kyk na haar voete. Weer verbeel sy haar dalk , maar JP kyk stil na haar … Meneer stap na haar toe, “Marilyn … ek is so jammer.”

“Toemaar Meneer ek is al gewoond hieraan”

“Ja my kind nou twee belangrike dinge. Ek het met oom Sarel gaan praat, hy het vir jou werk in sy winkel. Hy en tannie Lydia het ook ʼn kamer in hulle agterplaas waar jy kan bly. Ek stel voor jy aanvaar dit.”

“Rêrig Meneer?”

“Ja toe en doen so, jy kan Maandag begin. En dan Marilyn, sal ek jou in die winkel na werk ontmoet, oom Sarel het vir ons daar ʼn tafel reg en elke dag net na werk takel ons die logaritmes. Reg met jou?”

Sy begin snik, “Meneer, Meneer is uit die hemel … Meneer is ʼn engel!”

 

***

 

Die hele dorp is daar, almal praat hard, die mammas kloek vir oulaas oor hul spruite. Meraai stap versigtig nader en net toe sy om die rooi baksteen stoorkamertjie loop, hoor sy haar gunsteling liedjie, “Good bye Norma Jeane ...”

Sy kyk bang om, daar staan hy ... “Ek het vir jou gewag Marilyn, ek moet met jou praat. Nou voor dit te laat is. Jy is al waaraan ek al jare dink. Sal jy vir my skryf? Asseblief?”

Sy stap bang in, hy maak die deur agter haar toe, sag neem hy haar gesig in sy hande en soen haar. Al haar jongmeisie verlanges en frustrasies spoel oor, sy gryp na hom druk hom vas. Sy hande gly oor haar rug. Golwe van ekstase spoel oor hulle, deure van die paradys swaai wyd oop ...

Die trein fluit skril, skielik is sy alleen, daar is net ʼn papiertjie in haar hand.

 

***

 

Sy begin by oom Sarel se Spar werk en tannie Lydia help haar mooi reg. Die man van Volkskas het ook gekom en sy kom al mooi reg met die Visa masjientjie. Dit is vir haar so lekker om die mense van die dorp te help en veral die ouer mense op pensioen Vrydag te wys waar die winskopies is.

Laat oggend kom hy daar aan, “Haai ou Meraai, hoe is dit dat jy nou hier moet werk?”

“Koos, dis lekker, ek geniet dit soveel. Oom Sarel is goed vir my. Wat doen jy?”

“Ag ek val maar by my pa in maar die ouens op die plaas doen alles en ek het nou my eie bakkie en baie tyd op hande. Wanneer kan ek by jou kom kuier?”

Sy word bang, “Ek het geen kuier tyd nie, ek leer Wiskunde.”

Hy kyk af na haar, “Wiskunde! Dis nou dom, wat wil iemand soos jy nou daarmee doen?”

Meraai bewe van woede, “Koos, hoekom doen jy nie diensplig nie?”

“Ha! Dis ʼn geheim, maar as ek nou daai lang Bar One kan vat dan vertel ek jou.” Sonder om vir ʼn antwoord te wag, gryp hy dit van die rak en druk dit amper heel in sy bebaarde mond.

“Sien dit werk so ‘n ou moet net die regte ouens ken. My Pa, Dominee en Meneer Hanekom is hoog op in die Party. Hulle noem hulself Broeders, dis nou snaaks! Een ding is seker ek gaan ook een word en is klaar junior lid. Julle mis al weer uit want dis net vir mans. Dis nou pret!”

Koos trek ʼn lang teug aan die Gunston en blaas die walms in haar gesig, “Wat ek jou nou vertel vertel jy vir niemand, hoor jy my!”

Sy deins terug vir die stank, “Goed Koos, ek belowe.”

“My pa en meneer Hanekom is toe Rustenburg toe en met die streeksouens te gaan gesels. Dokter het ook gehelp met die vorms. Sien ek is nou ‘medies ongeskik’ al speel ek vir die eerste span slot. Wat ʼn grap, maar dis hoe dinge werk vir ons Boere, lekker-r-r!”

 

***

 

Elke week kom die brief, elke week antwoord sy …

 

“Liefste Marilyn, dis vreeslik hier in Oudtshoorn tog geniet ek dit. Korporaal Louw se taal is nie vir jou ore nie! Hoe gaan dit met die eksamen leerdery?”

 

“Liewe JP, ek verstaan niks … leer net en Meneer kom help elke dag.”

 

“Jy sal Wiskunde wen, ek belowe jou Marilyn. Ek is tog gekies vir die korporaalskursus, whê!”

 

“Liefste JP, My uitslae het gekom, ek is deur, 61% nogal!”

 

“Geluk jong! Geweet jy kan. Ek is darem nie so dom soos ek lyk nie en net volgende week het ek tog twee strepe!”

 

“Meneer het hier aangekom en weet jy wat het hy gedoen? My gaan inskryf by Unisa vir Wiskunde. Lankal geweet sy kop is aan die uithak, ai toggie …”

 

“Marilyn, ek verlang na jou, ek is lief vir jou …”

 

“My liewe JP, verlang? Ek is sonder woorde … Groot nuus, my eerste taak teruggekry en met 78% deurgekom. Korporaaltjie jy is besig om tweede te kom!”

 

“Luister ou winkelklerkie voor jy ʼn groot koppie kry, as ek terug is gaan jy vir my integrale en differensiale leer, het jy my gehoor?”

 

“Korporaal, u verstaan dit duidelik nie, ek is goed maar ek is duur, besig en beswaarlik tyd vir korthaar outjies soos jy, maar probeer en maak ʼn afspraak lank voor die tyd en net dalk miskien sal jy ʼn beurt kry!”

 

“Groot bekkie! Liefste Marilyn, ek droom oor ons sewe dae pas, maar samajoor Vivier het kom aankondig dat ons gereed moet wees want die oorlog in Angola word al erger. Jong, nou is ek bietjie bang.”

 

“Jy mag nie gaan nie JP! Sê net nou jy kom iets oor?”

 

“Dit is so, maar ek sal elke Vrydag skryf.”

 

***

 

Die briewe kom gereeld en Meraai pak dit diep weg waar niemand dit kan sien nie. Dit word minder, dit is bekrap, seker daardie sensors waarvan JP gepraat het. Sy werk hard en oom Sarel is so gelukkig met haar.

En elke middag sluitingstyd is hy daar, “Marilyn jy is ʼn doring! 82% vir jou taak!”

“Issie! Dis alles weer Meneer se skuld!”

“Man hou op stories maak, jy kon dit altyd doen, nou net ʼn geval van jy glo in jouself. Saaareeell, kom hier!”

“Marius, wat is dit nou weer?”

“Gooi vir ons ʼn dop en ʼn kleintjie haar, ons moet dit vier!”

 

***

 

Dit is Vrydag middag en sy stap terug huis toe, die son is al laag. ʼn Motor stop langs haar, dit is dof bruin geverf met die vreemde “M” op die nommerplaat. Die ruit draai af en daar sit ʼn groot man met grys hare. Hy dra ʼn uniform met pers strepe op sy skouers.

“Verskoon my dame, weet u dalk waar is meneer du Plessis se huis. Hy is blykbaar die prokureur hier by julle.”

“Meneer, draai links by die derde straat, dis Verweystraat en dan is sy huis die derde een aan die linkerkant.”

“Dankie dame.”

Meraai stap vinnig en loer versigtig om die straathoek. “Hoekom staan Meneer se Volksie en Dominee se bakkie dan ook daar …?”

 

***

 

Die nuus trek soos ʼn veldbrand deur die dorp ... Meneer kom nie meer middae nie en sy kan met niemand hieroor praat nie. ʼn Maand gaan verby en sy het nie weer na die Wiskunde gekyk nie. Doen net haar werk en probeer slaap. Dit is dertig dae later en daar is ʼn kloppie aan haar deur.

Hy kyk vir sy voete, “Marilyn, ek weet van alles, JP het al in standerd nege met my oor jou kom praat. Ek was vir julle so jammer want daar was nie ʼn manier hoe julle in ons dorp ooit bymekaar kon wees nie.”

Hulle val in mekaar se arms, hulle huil saam. “Meneer, ek moet na hom toe gaan maar ek is so bang!”

“Ek dink ook so, Sondag vroeg as almal nog slaap sal ek jou kom oplaai, jy moet dit van jou afkry.”

Dit is nog voor sonop toe Meneer voor haar deur stop. Sy neem die rose en klim in. Hulle praat niks en sy sien deur haar trane die strepe op sy wange. Hy parkeer en vat haar hande, “Liewe Marilyn, ek wag vir jou hier, ek kom amper elke dag na hom toe, maar dit is beter dat hy jou nou alleen sal sien.”

Sy neem die rose en stap bang na die ingang. Die deur is reeds oop en sy stap in. Sy sak op haar knieë voor die klein brons bordjie. Sy lees deur die waas van trane wat drup op haar voete:

 

HELDEAKKER

Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid Afrika!

Jean-Pierre du Plessis (18) gebore 23 Oktober 1967
Gesneuwel en vermis 10 September 1986 iewers aan die grens.

 

***

 

Sy kyk deur haar kantoor se venster, dit is die mooiste aand. Die volmaan kom stadig op oor die Pieke. Die kampus is verlate en net ʼn paar studente stap nog rond. Vanaand is dit die kanseliersmedalje toekenning en dit is tyd om te gaan. Sy haal haar handspeëltjie uit en kyk na die plooitjies om haar oë.

Sy maak die deur agter sag toe en kyk weer na die bord daarop dit, sy glo dit steeds nie, “Prof Marilyn Koekemoer, Fakulteit Ingenieurswese, Dekaan.”

Sy buk en trek die onderste laai oop. Dit is in die goue kissie en sy haal dit uit en vou die vergeelde papiertjie oop en lees nou vir die duisendste keer,

 

“My liefste Marilyn, jy kan alles doen, alles! Glo net in jouself. Jy moet weet dat al is ek nie by jou nie, ek jou altyd lief sal hê. Ek wag vir jou … Jean-Pierre.”

 

Comments

Popular posts from this blog

Vaarwel, maak die deur saggies toe

Die nuwe lewe (Woordfees inskrywing)