Die Lelike Eendjie (Woordfees inskrywing)
DIE LELIKE EENDJIE
VDS Brink
“Meraai! Wakker word, jy is al weer laat!”
“Jaaa
maaa!” Meraai staan vinnig op, skuifel met haar dik beentjies val-val oor die
goed wat in die gang rond lê. Sy kyk in die spieël deur die ou goue raam
brilletjie en kam haar hare. Die puisies op haar wange gloei in die kerslig.
“Oom Piet is nou hier en hoe moet ek jou
by die skool kry as jy hom elke dag laat wag?”
“Jaa maa!”
Sy voel die bangheid in haar wakker word
en haar hand begin weer bewe. Oom Piet en die pad dorp toe ... Sy gaan staan
voor die huis, die ryp lê spierwit en sy bewe van die koue. Die vuil Datsun
bakkie kom om die draai. Sy klim in. “Hallo Meraaitjie Koekemoer, jy lyk weer
pragtig vanmôre!”
Meraai skuif sover moontlik van hom weg en
sy linkerhand wat heeltyd op die rathefboom rus ...
Sy sit haar tas in die ry neer en kyk na
die dogters speelgrond. Groepies staan rond, maar sy gaan staan teen die draad
en kyk na die son wat opkom.
“Goeie môre klas,” sê Meneer Steenkamp.
“Goeie môre Meneer!”
Net toe Meraai gaan sit skop Koos haar
stoel weg, sy val. Die hele klas lag, “Haaa!”
Meneer kyk om van die swartbord, “Marilyn,
het jy seergekry?”
Die trane is vlak in haar oë en sy kyk net
vir haar tone. Toe sy stadig opkyk, sien sy hom voor in die middel sit en hy
kyk om. Hy lyk hartseer. Hy knik vir haar … Jean-Pierre.
***
Dit
is pouse. “Marilyn, sal jy gou agter bly? Sit gou, ek wil met jou praat.”
“Ek sien dat die kinders met jou spot. Ek
wens ek kan Koos ʼn klap gee, hy is skelm want ek sien nie wat hy doen nie. Jy
moet weet dat ek hom dophou en as ek hom uitvang het hy probleme.”
“…uh ... uh ... dankie Meneer …”
“Marilyn,
jy kry swaar met Wiskunde, en ek wil dat jy elke tweede dag eerste pouse
agterbly. Ons gaan dit maak ek belowe jou!”
“Uh … dankie Meneer …Meneer kan ek iets
vra?”
“Vra maar my kind?”
“Hoekom noem Meneer en Jean-Pierre my
Marilyn?”
“Ek het nie ʼn vrou nie en wil ook nie een
hê nie. Ek bewonder vrouens wat opstaan en uitstyg bo alles. Marilyn Monroe is
my en JP se groot heldin. Ons twee het oor jou gepraat, dat jy nou swaar kry
maar ons weet dat jy eendag die mooiste en slimste sal wees. Jy is nes
Marilyn!”
***
“Hallo
Pa!”
“JP! Hoe was die rugby oefening?”
“Ag Pa, ek speel maar net omdat daar te
min seuns is. Met Koos as kaptein en tussen hom en meneer Hanekom is dit
eintlik maar sleg. Ag wat, deel van die lewe!”
“Jong en tussen ons, Nico Hanekom en Koos
senior saam is slegte nuus vir ons dorp. Nou het hulle vir Dominee ook in hul
web ingetrek. Hier kom groot moeilikheid.”
Daar is ʼn klop aan die deur, “Kom binne!”
Hy stap in met ʼn breë glimlag, “Marius
Steenkamp, wat ʼn verassing!”
“Ou Louis en Jean-Pierre, ek het groot
nuus, gooi daar vir ons ʼn dop!”
“Ag man, jy en jou stories, ek het juis ‘n
vyf jaar oue Roodeberg hier. Reg vir jou?”
“Jou ou skelm! Roodeberg is mos onwettig,
maar jy weet natuurlik hoe om dit te omseil want jy en Sersant is mos pelle,
jou ou rakker, moenie eers vra nie!”
“JP, kom jy ook hier, maar nie ʼn druppel
vir jou nie, hoor jy my?”
“Ja Meneer,” lag JP saam.
Meneer maak die koevert stadig oop en sit
ʼn brief voor hulle neer, “Whaa-Laaa! Rekord eksamen uitslae, JP jy is die
eerste outjie van Hoërskool AF Liebenberg wat dit ooit kon regkry, agt A
simbole en 93% vir Wiskunde, jou ou doring!!”
Louis en JP glo nie wat hulle hoor nie en
lag van oor tot oor, en toe … “JP wat is dit nou?”
Jean-Pierre begin rukkend snik, Marius en
Louis hou hom styf vas. “Pappa, Meneer julle glo al die jare in my. Toe mamma
verlede jaar weg is hemel toe het Pappa na my gekyk en my in myself laat glo.”
Hy snik, “en Meneer het ure na skool met
my gesit en my sin, cos en tan geleer en geleer. Ek is net wat julle van my
gemaak het. Jammer Pappa, dis mos alles weer Meneer se skuld want ek gaan ʼn
ingenieur word!”
Die drie teug aan hulle drankies en Louis
rond alles af met ʼn heerlike melktert.
“Terwyl jy nou hier is, Marius jy kan dalk
raad gee. JP, ons sal moet kies oor die diensplig ding. Die nuwe wet sê dat dit
nou twee jaar vir almal is, maar jy kan gaan as jy eers klaar geleer het.”
“Pappa en Meneer, dis al waaroor die ouens
praat en die meeste voel dat ou maar moet gaan en dit klaar kry. Ek kan dan
daardie tyd al my Wiskunde een sommer deur Unisa klaar maak.”
“Louis, ek ondersteun dit. Ook omdat dit
vir ʼn jong outjie goed is om bietjie fisies uitgedaag te word.”
Die drie sit stil en weet dat die antwoord
op die tafel is.
“Ag man dis tog niks,” antwoord Louis
terwyl hy ʼn diep sluk neem, “Nou eers daardie lisensie kry en JP, as jy my kar
stamp wiks ek vir jou!”
***
“Het
jy al ʼn skiet gekry?” vra Annie.
“Ja en whê tog!” antwoord Susan.
“Vertel! By wie?”
“JP natuurlik!”
“Gelukkige duiwel! Dis net omdat jou pa en
oom Louis elke dag in die hof vir mekaar gluur. Ek weet sommer hulle het dit
vooraf gereël.”
Susan bly ʼn rukkie stil, sluk twee keer,
“Issie! Hy gaan nog my kêrel word. En jy?”
“Koos homself, meneer macho!”
***
“Marilyn,
kan ek jou iets persoonlik vra? “
“Meneer mag maar.”
“Het jy al iemand om mee saam te gaan na
die matriekafskeid?”
Meraai begin sag huil. “Meneer, daar is
dertien dogters en twaalf seuns. Niemand gaan my vra nie en waar moet ek ʼn rok
kry? Ma se pensioen is skaars genoeg vir ons om te eet.”
“My kind, kan ek vir jou geld vir ʼn rok
gee? Asseblief?”
“Maar Meneer dan gaan ek net heel aand in
die hoek sit. Maar nes hier op die speelgrond. Nee wat, ek bly liewer by die
huis.”
“Marilyn iets anders, jy het jou Wiskunde
in die rekordeksamen deurgekom. Maar kom ons wees eerlik, daar is nog baie werk
voor tot die einde van die jaar.”
“Ek is reg meneer, ek belowe om so aan te
hou. Ek moet dit net deurkom!”
***
Daar
is ʼn groot opgewondheid. Meneer het die bruin koevert klaar opgeskeur. Almal
gil, “Plak op Meneer!”
Marius steek die papier vas maar hou sy
hand daarop. “Haal weg Meneer!”
“Ouens net gou dit, vir die eerste keer
het ons agt A simbole! Jean–Pierre!!”
“Geluk ou JP!” skree almal.
“En dan is daar net een her-eksamen vir
net een vak. Ook dit is ʼn rekord vir ons skool. Geluk ouens!”
Die hele groep draf met ʼn groot geraas af
in die straat na Oom Jan se kafee. “Margate hier kom ons!”
Meraai staan eenkant, sy kyk na haar
voete. Weer verbeel sy haar dalk , maar JP kyk stil na haar … Meneer stap na
haar toe, “Marilyn … ek is so jammer.”
“Toemaar Meneer ek is al gewoond hieraan”
“Ja my kind nou twee belangrike dinge. Ek
het met oom Sarel gaan praat, hy het vir jou werk in sy winkel. Hy en tannie
Lydia het ook ʼn kamer in hulle agterplaas waar jy kan bly. Ek stel voor jy
aanvaar dit.”
“Rêrig Meneer?”
“Ja toe en doen so, jy kan Maandag begin.
En dan Marilyn, sal ek jou in die winkel na werk ontmoet, oom Sarel het vir ons
daar ʼn tafel reg en elke dag net na werk takel ons die logaritmes. Reg met
jou?”
Sy begin snik, “Meneer, Meneer is uit die
hemel … Meneer is ʼn engel!”
***
Die hele dorp is daar, almal praat hard, die mammas
kloek vir oulaas oor hul spruite. Meraai stap versigtig nader en net toe sy om
die rooi baksteen stoorkamertjie loop, hoor sy haar gunsteling liedjie, “Good bye Norma Jeane ...”
Sy kyk bang om, daar
staan hy ... “Ek het vir jou gewag Marilyn, ek moet met jou praat. Nou voor dit
te laat is. Jy is al waaraan ek al jare dink. Sal jy vir my skryf? Asseblief?”
Sy stap bang in, hy maak
die deur agter haar toe, sag neem hy haar gesig in sy hande en soen haar. Al
haar jongmeisie verlanges en frustrasies spoel oor, sy gryp na hom druk hom
vas. Sy hande gly oor haar rug. Golwe van ekstase spoel oor hulle, deure van
die paradys swaai wyd oop ...
Die trein fluit skril,
skielik is sy alleen, daar is net ʼn papiertjie in haar hand.
***
Sy begin by oom Sarel se Spar werk en tannie Lydia
help haar mooi reg. Die man van Volkskas het ook gekom en sy kom al mooi reg
met die Visa masjientjie. Dit is vir haar so lekker om die mense van die dorp
te help en veral die ouer mense op pensioen Vrydag te wys waar die winskopies
is.
Laat oggend kom hy daar
aan, “Haai ou Meraai, hoe is dit dat jy nou hier moet werk?”
“Koos, dis lekker, ek
geniet dit soveel. Oom Sarel is goed vir my. Wat doen jy?”
“Ag ek val maar by my pa
in maar die ouens op die plaas doen alles en ek het nou my eie bakkie en baie
tyd op hande. Wanneer kan ek by jou kom kuier?”
Sy word bang, “Ek het
geen kuier tyd nie, ek leer Wiskunde.”
Hy kyk af na haar,
“Wiskunde! Dis nou dom, wat wil iemand soos jy nou daarmee doen?”
Meraai bewe van woede,
“Koos, hoekom doen jy nie diensplig nie?”
“Ha! Dis ʼn geheim, maar
as ek nou daai lang Bar One kan vat dan vertel ek jou.” Sonder om vir ʼn
antwoord te wag, gryp hy dit van die rak en druk dit amper heel in sy bebaarde
mond.
“Sien dit werk so ‘n ou
moet net die regte ouens ken. My Pa, Dominee en Meneer Hanekom is hoog op in
die Party. Hulle noem hulself Broeders, dis nou snaaks! Een ding is seker ek
gaan ook een word en is klaar junior lid. Julle mis al weer uit want dis net
vir mans. Dis nou pret!”
Koos trek ʼn lang teug aan
die Gunston en blaas die walms in haar gesig, “Wat ek jou nou vertel vertel jy
vir niemand, hoor jy my!”
Sy deins terug vir die
stank, “Goed Koos, ek belowe.”
“My pa en meneer Hanekom
is toe Rustenburg toe en met die streeksouens te gaan gesels. Dokter het ook
gehelp met die vorms. Sien ek is nou ‘medies ongeskik’ al speel ek vir die
eerste span slot. Wat ʼn grap, maar dis hoe dinge werk vir ons Boere, lekker-r-r!”
***
Elke week kom die brief, elke week antwoord sy …
“Liefste Marilyn, dis vreeslik hier in Oudtshoorn
tog geniet ek dit. Korporaal Louw se taal is nie vir jou ore nie! Hoe gaan dit
met die eksamen leerdery?”
“Liewe JP, ek verstaan niks … leer net en Meneer kom
help elke dag.”
“Jy sal Wiskunde wen, ek belowe jou Marilyn. Ek is
tog gekies vir die korporaalskursus, whê!”
“Liefste JP, My uitslae het gekom, ek is deur, 61%
nogal!”
“Geluk jong! Geweet jy kan. Ek is darem nie so dom
soos ek lyk nie en net volgende week het ek tog twee strepe!”
“Meneer het hier aangekom en weet jy wat het hy
gedoen? My gaan inskryf by Unisa vir Wiskunde. Lankal geweet sy kop is aan die
uithak, ai toggie …”
“Marilyn, ek verlang na jou, ek is lief vir jou …”
“My liewe JP, verlang? Ek is sonder woorde … Groot
nuus, my eerste taak teruggekry en met 78% deurgekom. Korporaaltjie jy is besig
om tweede te kom!”
“Luister ou winkelklerkie voor jy ʼn groot koppie
kry, as ek terug is gaan jy vir my integrale en differensiale leer, het jy my
gehoor?”
“Korporaal, u verstaan dit duidelik nie, ek is goed
maar ek is duur, besig en beswaarlik tyd vir korthaar outjies soos jy, maar
probeer en maak ʼn afspraak lank voor die tyd en net dalk miskien sal jy ʼn beurt
kry!”
“Groot bekkie! Liefste Marilyn, ek droom oor ons
sewe dae pas, maar samajoor Vivier het kom aankondig dat ons gereed moet wees
want die oorlog in Angola word al erger. Jong, nou is ek bietjie bang.”
“Jy mag nie gaan nie JP! Sê net nou jy kom iets
oor?”
“Dit is so, maar ek sal elke Vrydag skryf.”
***
Die briewe kom gereeld en Meraai pak dit diep weg
waar niemand dit kan sien nie. Dit word minder, dit is bekrap, seker daardie
sensors waarvan JP gepraat het. Sy werk hard en oom Sarel is so gelukkig met
haar.
En elke middag
sluitingstyd is hy daar, “Marilyn jy is ʼn doring! 82% vir jou taak!”
“Issie! Dis alles weer
Meneer se skuld!”
“Man hou op stories maak,
jy kon dit altyd doen, nou net ʼn geval van jy glo in jouself. Saaareeell, kom
hier!”
“Marius, wat is dit nou
weer?”
“Gooi vir ons ʼn dop en ʼn
kleintjie haar, ons moet dit vier!”
***
Dit is Vrydag middag en sy stap terug huis toe, die
son is al laag. ʼn Motor stop langs haar, dit is dof bruin geverf met die
vreemde “M” op die nommerplaat. Die ruit draai af en daar sit ʼn groot man met
grys hare. Hy dra ʼn uniform met pers strepe op sy skouers.
“Verskoon my dame, weet u
dalk waar is meneer du Plessis se huis. Hy is blykbaar die prokureur hier by
julle.”
“Meneer, draai links by
die derde straat, dis Verweystraat en dan is sy huis die derde een aan die
linkerkant.”
“Dankie dame.”
Meraai stap vinnig en
loer versigtig om die straathoek. “Hoekom staan Meneer se Volksie en Dominee se
bakkie dan ook daar …?”
***
Die nuus trek soos ʼn veldbrand deur die dorp ... Meneer
kom nie meer middae nie en sy kan met niemand hieroor praat nie. ʼn Maand gaan
verby en sy het nie weer na die Wiskunde gekyk nie. Doen net haar werk en
probeer slaap. Dit is dertig dae later en daar is ʼn kloppie aan haar deur.
Hy kyk vir sy voete,
“Marilyn, ek weet van alles, JP het al in standerd nege met my oor jou kom
praat. Ek was vir julle so jammer want daar was nie ʼn manier hoe julle in ons
dorp ooit bymekaar kon wees nie.”
Hulle val in mekaar se
arms, hulle huil saam. “Meneer, ek moet na hom toe gaan maar ek is so bang!”
“Ek dink ook so, Sondag
vroeg as almal nog slaap sal ek jou kom oplaai, jy moet dit van jou afkry.”
Dit is nog voor sonop toe
Meneer voor haar deur stop. Sy neem die rose en klim in. Hulle praat niks en sy
sien deur haar trane die strepe op sy wange. Hy parkeer en vat haar hande,
“Liewe Marilyn, ek wag vir jou hier, ek kom amper elke dag na hom toe, maar dit
is beter dat hy jou nou alleen sal sien.”
Sy neem die rose en stap
bang na die ingang. Die deur is reeds oop en sy stap in. Sy sak op haar knieë
voor die klein brons bordjie. Sy lees deur die waas van trane wat drup op haar
voete:
HELDEAKKER
Ons sal lewe, ons sal
sterwe, ons vir jou Suid Afrika!
Jean-Pierre du Plessis
(18) gebore 23 Oktober 1967
Gesneuwel en vermis 10 September 1986 iewers aan die grens.
***
Sy kyk deur haar kantoor se venster, dit is die
mooiste aand. Die volmaan kom stadig op oor die Pieke. Die kampus is verlate en
net ʼn paar studente stap nog rond. Vanaand is dit die kanseliersmedalje
toekenning en dit is tyd om te gaan. Sy haal haar handspeëltjie uit en kyk na
die plooitjies om haar oë.
Sy maak die deur agter
sag toe en kyk weer na die bord daarop dit, sy glo dit steeds nie, “Prof Marilyn
Koekemoer, Fakulteit Ingenieurswese, Dekaan.”
Sy buk en trek die
onderste laai oop. Dit is in die goue kissie en sy haal dit uit en vou die
vergeelde papiertjie oop en lees nou vir die duisendste keer,
“My liefste Marilyn, jy kan alles doen, alles! Glo
net in jouself. Jy moet weet dat al is ek nie by jou nie, ek jou altyd lief sal
hê. Ek wag vir jou … Jean-Pierre.”

Comments
Post a Comment