Vaarwel, maak die deur saggies toe
Lank, lank gelede in die oorvol
kinderhuis in die Laeveld het ʼn klein dogtertjie gebly, Laratjie. Elke nag as
hulle koud kry dan pluk die ander haar komberse af en in die somer val die
muskiete haar aan en met malaria weer en weer.
Tannie Anna is die matrone en sy skree
elke dag, “Lara kry jouself in rat, jy maak my lewe hel!”
En toe sy in standerd ses is toe kom
die nuwe juffrou Annemarie en sy vra dat Lara na die klas moet agterbly, “Lara,
jy is die mooiste en slimste hier, ek en jy gaan rekeningkunde saam doen en jy
gaan ʼn wenner wees!”
Die jare gaan verby, die boelies hou
net aan. Tog kom sy matriek deur en Juffrou huil en lag toe sy vir Lara vertel,
“Lara jy is die BESTE, jy het ag A simbole!!!
Die trane loop oor haar wange,
“Juffrou, juffrou is ALLES vir my …”
“Lara en Oom Koos by die Wimpy het
aangebied dat jy daar kan werk, ek het ʼn kamertjie vir jou en ons twee gaan nou
by Unisa aansoek doen dat jy BComm leer!”
Die jare gaan verby, sy kry die werk in
Parow in die vreemde Kaap. Al haar klerkskappe voltooi en ʼn mooi salaris. Nou
net die jare se studieskuld nog afbetaal. Sy gaan sit agter haar lessenaar, dis
nog nie eers sewe uur nie maar Lara geniet dit so om vroeg te kom en aan die
werk te spring.
Soos altyd kyk sy eerste na die geraamde sertifikate teen die muur en vee weer en weer haar trane af, “Lara Susanna de Beer, BComm Honneurs Cum Laude.” En onder dit wat nou so saak maak, “LS de Beer, Geoktroeerde Rekenmeester."
Sy tel die Maandag Burger op en blaai
soos altyd na die besigheidsdeel, daar ʼn groot letters, “Ponzi skema onthul,
Koekemoer Ingelyf Rekenmeesters Parow word ondersoek!”
“Wat?” roep sy hard uit, “Dit kan nie
ons wees nie!”
Sy neem ʼn diep sluk aan die oggend
koffie, toe hammer dit aan haar deur en dit swaai oop, Jan Koekemoer storm in
ook met ʼn Burger in sy hand en wys sy vinger na haar, “Lara jou skerminkel kyk
net wat het jy nou weer aangevang!”
“Meneer ek weet niks hier van nie …”
“Hou jou bek, pak jou goed en jy het
een uur om ons kantore te verlaat, al jou detail is aan die polisie oor gegee!”
Sy ry met die ou Golfie tot by
haar kamertjie naby Voortrekkerweg. Die
deur staan oop en daar staan ʼn kwaai ou met ʼn das, “Juffrou de Beer?”
“Ja …”
“Ek is van Van Wyk van die Balju
kantoor. Hier is ʼn dokument vir u om van kennis te neem.” Hy gee dit vir haar
en loop weg.
Sy maak dit bang oop. “Mej L S de Beer,
die saak oor die Koekemoer bedrog is opgemaak en u is die hoofbeskuldigde, neem
kennis en verwag arrestasie en dat al u besittings geannekseer sal word.”
Sy sluip in maak die deur toe en haar
liefling Kasper katjie skuur teen haar. En toe ... skielik is dit net daar, ʼn
bruin koevert skuif by die voordeur in. “Wat is dit nou?”
Sy maak dit bang oop, ou vergeelde
papier en ʼn brief in ou ink geskryf, "Liefste
Lara, je hebt het zo zwaar gehad, je moet weten dat ik er altijd zal zijn om je
te helpen. Lieve groeten, Overgrootvader Diederick de Beer."
Net toe piep haar foon, ABSA laat weet
met ʼn SMS dat R78 435.34 in betaal is, presies wat sy nog skuld … waar kom dit
vandaan?
Dis ʼn slapelose nag, die son is skaars
op en die Sedoos waai vreeslik, weer ʼn harde klop aan die deur. Die eienaar,
Fred Britz, en ʼn man in ʼn polisie uniform. Hulle gluur vir haar. “Juffrou, ek
is Adjudant Wilson, is hier om jou te arresteer vir bedrog.”
Hy ruk haar om en kliek die boeie aan
haar hande. Toe stamp haar tot by die vangwa en klap die deur toe. Sy snik en
ruk van vrees ...
Hulle stoot haar in die vuil stink
sellietjie met vyftien ander wat haar aan gluur. “Wies jy?” skree hulle op
haar, “Fokkof ons soek jou nie hier nie!” Sy kruip agter haar hande weg en sit
op die enigste oop matrassie.
Stamp en stoot en gil deur die nag tot
die son op kom deur die venster vol tralies. Die deur swaai oop. “De Beer? Kom
hier!”
Sy stap uit en die boeie klik weer om
haar arms, “Kom!”
Hulle loop en stoot haar by ʼn kantoor
in, “Sit nou hier en hou jou bek!”
Die tyd gaan verby, toe kom hy … ʼn Jong
outjie met swart kort hare en ʼn dik brilletjie. Hy kyk vir sy tone, “Juffrou de
Beer, ek is Pieter Strydom en is aangewys as u prokureur.” Hy bly lank stil,
“Tussen ons, dis groot bedrog en ek gaan my bes doen om jou vrygelaat te kry.
Eerste stap is borgtog om jou uit hierdie nes te kry.”
Sy stotter, “M … m … eneer … baie
dankie …”
“Kom ons hoor wat die landdroste
besluit, dalk is dit goedkoop.’
ʼn Dag gaan verby en sy word weer
uitgeneem na die landros se kantoor. Pieter staan in die hoek en kyk weer vir
sy voete.
Landros Pretorius skuif sy vingers oor
sy gesig, “Juffrou de Beer, borgtog is toegestaan aan u. Verstaan dat die
klagte teen u nou meer as vier biljoen Rand is wat in die Ponzi skema verdwyn
het. Daarom sal die borgtog koste ten minste ʼn half miljoen rand moet wees.
Hier is ons bankbesonderhede. U het vier en twintig uur om dit in te betaal.
Indien nie sal u aangehou word tot die hofsaak oor meer as ses maande eers sal
wees.”
Hulle sleep haar terug die selle. Op
haar bed is weer ʼn bruin koevertjie. “Lieve
Lara, ik zorg voor je en je zult overwinnen! Overgrootvader Diederick.”
Nog ʼn wrede nag sleep verby … Die son
kom op en sy word weer gesleep na die kantoor en die landros krap op ʼn papier
en kyk op. “Juffrou, die bedrag van vyf honderd duisend Rand is twaalf uur laas
nag inbetaal en jy word nou voorlopig vrygelaat! Jy sal daagliks hier ʼn vorm
moet kom teken.”
Pieter wag buite vir haar, “Juffrou ek
is so bly! Gaan haal jou dinge en ek sal jou na ʼn gastehuis neem. Hulle het my
gebel en laat weet dat plek vir jou bespreek is en dit vir die volgende jaar
vooruit betaal en drie etes per dag is gedek!”
Lara trek in by die gastehuis, elke
maand word ook een honderd duisend Rand in haar rekening in betaal. Van waar?
Sy skryf in vir ʼn meestersgraad en geniet dit soveel.
Die hofsaak sloer aan en toe amper vyf
maande later, op die voorblaaie van Die Burger, Argus en Times is fotos van die
kranse by Chapmans Piek, “Jan Koekemoer van Koekemoer Ingelyf Rekenmeesters se
lyk is gevind. Hy het vermoedelik by die krans af gespring.”
Dis Vrydagmiddag en daar is ʼn kloppie
aan haar deur. Sy maak bang oop, Pieter kyk weer skaam na sy tone, “Lara, jy is
vrygespreek, ek is so bly!” Hulle vee hulle trane af en lag!
Elke Vrydag kom haal hy haar en iets
moois begin gebeur. Amper ‘n jaar later vra haar toestemming en sit toe die
mooi ringetjie aan haar linkerhand!
Sy word wakker en weer is daar ʼn bruin
koevertjie, bang maak sy dit oop, “Lieve
Lara, het was mijn voorrecht om de Jan van de rots af te donner. Nu hoor ik van
de ring aan je vinger en juig ik met je mee! Overgrootvader Diederick.
"
“Wat nou?” wonder sy. Twee dae gaan
verby en daar is dit, weer ʼn brief. Bewend maak sy dit oop … “Liefste Lara, Ek het nou ook reg gekom met
julle pragtige taal! Hier kom nou ʼn opdrag: Jy en Pieter sal na my huis in
Toddstraat 34 in Kimberley gaan. Jy sal dit nou erf en Rademeyer Prokureurs
daar sal die oordrag doen en die sleutels gee. Alle kostes is betaal. As julle
daar gekom het volg die opdragte, met al my liefde, Oupagrootjie Diederick.”
Lara en Pieter parkeer, sukkel met die
sleutels, die voordeur kraak oop, dis vuil en stowwerrig.
Oupagrootjie se erfporsie aan haar, al
meer as honderd jaar so toegesluit, “Wil ek dit regtig hê? Nou hier in
Kimberley se vuil agterbuurt kom bly?”
Tussen alles in die vergeelde papiere
geskryf in Hollands oor oupagrootjie Diederik en sy oom Johannes wat hier
geboer het op Vooruitzicht en toe die bose Engelse die diamante daar ontdek en
in 1870 die De Beers van die grond af gejaag het.
“Dis nou 2024, wat maak dit tog saak?”
dink Lara, “Hoe vervelig!”
Sy en Pieter stap versigtig in die gang
af. In die donker gang is daar ʼn skildery van De Wet, Cronje en De la Rey. Hul perde
se oë lyk moeg want dis ʼn eindelose stryd …
“Wat nou?” wonder sy vir die hoeveelste
keer, sy vroetel met die sleutel by die kamer in die hoek soos die testament
haar beveel, die deur knars oop en net daar voor haar op die vloer is ʼn skoen
boks met ʼn bruin koevert op dit.
Sy maak dit oop, “Liewe Lara, … alles is gedoen
en ek is so trots op jou! Kan jy dit glo net vandag op sewe November 1824 is ek
gebore, ek is vandag twee honderd jaar oud! Dis so goed om dit te kan vier met
jou. Dan sal jy dit seker nie verstaan nie, dis wonderlik om ʼn spook te kan
wees en lewendige mense te help! Ek en Maria van Uniondale werk saam en help
mekaar … Vaarwel, maak die deur saggies toe ....”
Sy maak die boks oop en net daar voor
haar op die vloer in die skemerlig glim dit … ʼn hele skoenboks vol honderde
klein blou glasagtige klippies …
Nawoord: Erkenning aan
Christopher Torr en sy lied, “Die Donker gang”.

Comments
Post a Comment