Die nuwe lewe (Woordfees inskrywing)
Toe die lig deur breek
VDS Brink
Die Suidoos huil en die
duiwel se rookwolke hang oor Duiwelspiek, dit is Kaapse weer op sy ergste en sy
skree, “Pieter waa’s jy? Word wakker man!”
Pieter
ruk bewend wakker op die stoep, “Jaa maa?”
Sy skuifel
by die deur uit, daar is nuwe blou kolle op haar arms en gesig, “Kry lewe en
vat die vyftig rand en gaan koop ʼn brood by die Spar en jy bring elke sent
terug!”
“M-ma,
het hy weer vir ma geslaan?”
“Bly stil
man, dit het niks met jou te doen nie.”
Pieter
trek stadig sy plakkies aan en stap uit die agterkamertjie om die huis van Oom
Koos en Tannie Annie van Wyk. Hulle sit voor op die stoep en die wolke Rothmans
hang oor hulle, “Hallo Pieter!”
Pieter knik net vir hulle en loop aan. Altyd as
hy stap dan dink hy diep oor dinge, Pa wat net weggeraak het ʼn paar jaar gelede
en al wat ma daarvan gesê het was, “Ek het wragtag nie meer tyd vir die dom ou
in sy rystoel nie, die ters in Angola het sy bene afgeskiet. Hy sit net hier en
lees die vervelige wiskunde onsin en dan moet ek daar mee opgesaal sit!”
Ma wat dan
ure lank by die klerewas plek werk en Oom John wat in die middel van die nag kom
en elke keer is daar nuwe blou kolle …
Hy het graad
tien darem net-net kon maak en al wat ma daarna gesê het was, “Nou moet jy werk
kry, deel en wees deel want ek kan nie die skool betaal nie.”
Hy kom by
die Spar, kry die brood en kleingeld en loop stadig terug. Waar is Ma se
karretjie dan? By die huis is sy net weg, alles deurmekaar en weg vir altyd. Het
Oom John haar kom vat?
“Wat doen jy alweer?”
flikker WhatsApp op die iPad skerm en sy tik terug, “Moer toe met jou ook man!”
Lara sit
op die stoep, vat ʼn diep suig aan haar skelm damprook stokkie, die winde waai
en sy kyk vêr na die Hottentots Hollandse berge en oor na Valsbaai en amper Kaappunt.
Hier in Welgemoed met sy reuse huise is alles so vervelig. Pa en Ma wat dag en
nag werk en al waaroor hulle praat oor hoe hulle as die slimste advokate die staatsaanklaers
en regters elke keer ore aansit. Hulle spog met hul groot beleggings in buitelandsefondse,
kriptoeenhede en in plaaslike golflandgoedere.
Sy moet
dag vir dag stoksiel alleen hier sit en ginnegaap. Dis somer skoolvakansie en al
die skoolmaats is weg Hermanus, Wildernis en na ander ryk mens plekke toe. Die
boodskappe flits vinnig na mekaar op haar skerm: “Dowwe Laratjie, dis baie
lekker hier weg van jou af en ons mis jou glad nie!” en “Lara Watsenaam wat sit
en doen jy daar en wie pla jy nou al weer?”
Sy suig weer
die stokkie, maak asof sy blind is vir die stapel boeke voor haar wat haar ma
haar beveel het om deur te werk sodat sy reg is vir haar matriekjaar.
Pieter
skeur ʼn stuk brood af, sy skouers ruk. Sy ma se stem is stil, die huis is leeg.
Hy knyp sy oë toe en die donkerte in hom bly. Die son kom op en daar klop iemand aan die deur, dis Oom Koos, “Pieter
wat gaan hier aan, jy is alleen hier en waar is Ma Susan?”
“Ek weet
nie Oom,” en hy begin weer snik. Die Oom vat ʼn diep sluk aan die blikkie Castle,
klap die deur toe en sluit dit. Pieter sit alleen daar, honger en koud.
Weer ʼn klop
aan die deur, “Is jy Pieter Nel?”
“Ja … ja Tannie
…”
Sy kom in
en kom sit langs hom, “Pieter ek is so jammer vir jou, Meneer van Wyk het my
alles vertel. Ek is ʼn maatskaplike werker en my werk is om na kinders soos jy
om te sien. Gaan pak nou al die goedjies wat jy nodig het. Hier is twee koffers
daarvoor. Hier is ook kos vir jou tot môre wanneer ek jou kom haal. Dan gaan
ons jou inboek in Parow se Kinderhuis, deel en wees deel. Mooi bly tot môre.”
Pieter tuur
na die toe deur, wat nou? Hy slaap niks en besluit, daar is geen manier dat hy
in daai aaklige plek gaan bly nie. Die simpel outjies van daar en saam in die
skool is vervelig en deurmekaar. Hy vat die klein koffer met die wiele en sit net ʼn paar dinge daar in. Hy wil
net weg en toe loop hy die volgende oggend vyf uur.
Waarheen
nou? Hy weet wragtag nie en stap maar net. Toe hy by die treinspoor kom, wonder
of hy links of regs moet gaan? Die son begin opkom en voor hom sien hy klompe
sinkplate en voete daaronder uitsteek.
“Haai jy, wies jy?” Pieter kyk na die ou Oom
wat onder die sinkplaat vir hom loer, “Kom hier mannetjie, waar kom jy vandaan?”
“Oom, ek
weet nie …”
“Hoe kan
jy nie weet nie?”
“My ma is
weg Oom en ek is verdwaal en alleen.”
“Toe kom
hier, ek is Oom Paul. Hier is vir jou slaapplek en later gaan jy my met ʼn paar dinge
help.”
Pieter
sleep die koffer na die oom se plek, die Oom wys hom na ʼn oop deel onder die
sinkplate, “Bly hier en hou jou bek!”
Pieter kyk
rond. Die bang warrel deur hom. Hy gaan lê op die vuil ou kombers en val in ʼn diep
slaap.
“Word
wakker, staan op en kom!” die oom pluk aan hom en hy spring op. Buite skyn die son
helder. “Gaan kry vir ons kos en gou ook, ek is honger.”
“Waar Oom,
met wat Oom?”
“Loop na
die huise anderkant Voortrekkerweg en soek in die dromme, weg is jy!”
Maande gaan verby, Pieter
sit onder die sinkplaat en sug diep. Moet hy nou weer deur die dromme gaan krap
vir ontbyt? Oom Paul is laas week net dood en die bende het hom middernag voor
die Metrorail trein gaan gooi om van sy lyf ontslae geraak. Pieter en die bende
kom nou goed klaar en hy weet waar om wat te doen, die dinge in te oes en hulle
vergoed hom. Nog ʼn rukkie en dinge reg doen vir hulle en dan sal hy ook ʼn lid word.
“Ou Pieter,
kry lewe man,” skree Robert die 48s bendeleier. “Hier is weer die boks vol Tik
wat jy aan die spul op die platform moet gaan verkoop. Ek soek tweehonderd rand
vir elke stafie. As jy minder bring of daarvan steel gaan ek jou op bliksem!”
“Reg so Robert,
ek laat my nie deur daai spul vertel wat en hoe nie.” Hy neem die boksie en
dwaal deur die gietende reën na Bellville stasie se platform en koop ʼn goedkoop
kaartjie Parow toe net om op die platform te kan wees.
Hy stap
stadig rond. ʼn Klomp ouens staan bymekaar en gluur hom aan, “Haai jy Whitey,
het jy vir ons die stuff gebring?” Hy kyk weg en knik net sy kop en skuil agter
die ablusieblok se muur om vir die kameras weg te kruip. Een vir een kom die
kopers, betaal en vat die sestig Tik stafies gou gou van sy hande af en alles is
weer mooi in plek soos dit hoort.
Hy loop
met die wins en wag vir ure voor die ou woonstelblok waar Robert en sy
medewerkers skuil. Dit word donker want Eskom sit al weer die krag af. As hy
nie daar wag nie gaan Robert en manne hom kom op voeter. Dis die reël want hy
moet dadelik kom inbetaal voordat hy sy paar Rande sal kry.
Dit is
amper al twee uur die oggend, die krag is weer aan en die straatligte brand. Bo
in die gebou is daar ʼn geskree, Pieter word baie bang. Hy maak
homself nog kleiner in die skaduwees van die pilaar van die muur oorkant die
straat. Die manne is in die gang
voor die woonstelle en gil skree en slaan mekaar. Toe sleep drie van hulle een
ou en gooi hom oor die muur van die vyfde vloer en hy val reg voor Pieter … dit
is Robert.
Pieter
hardloop weg na sy skuiling, gryp ʼn paar dinge en hardloop die nag in met die al
Tik geld in sy sak. Waarheen nou?
Lara vee oor die iPad. Sy
is by meer as tien WhatsApp groepe uitgegooi. Sy kliek op Facebook, begin tik
terwyl sy dink, die aakligste karakters is daai graad elfs in ons skool, sy
haat hulle!
Sy tik
hulle name een na die ander, al twintig van die klasmaats wat haar heel dag en
in die nag uitskel. Een na die ander tik hulle terug. “Jy is onnosel en mislik
en ek gaan jou nou vir altyd unfriend.” Sy word uit die groepe gesit en hulle
verlaat haar groepe.
Sy sug
diep, gooi die boeke in die kas en vee die trane af. Toe piep die iPhone met ma
se WhatsApp, “Lara, ek en pappa is nog in die hof besig en gaan na dit na ʼn funksie
in die Waterfront waar ons in die hotel gaan oorbly. Ons sal seker eers Dinsdag
terug kom. Haal vir jou kos uit die yskas en sluit die deure toe!”
Kasper
kom skuur teen haar, sy vryf sy ore en sy huil en huil, “Kasper my liefling katjie,
jy is al wat ek oor het, wat nou?”
Sy en
Kasper gaan lê op die bed, sy slaap nie. Oor en oor dink sy oor hoe sy die
ander in die skool beledig en liegstories van hulle op die sosiale media plak
en hoe hulle reageer. Sy haat almal, maar het geen vriende nie en worstel alleen
met die donker wolke wat dag na dag oor haar meer neersak …
Die son kom op oor die Drakenstein
berge, dis die mooiste dag. “Kasper, ek gaan jou alleen los en ʼn end stap, reg
met jou?”
Sy trek
haar tekkies aan en stap af teen die Tygerberg bult, voor haar is die kerk waarheen
hulle omtrent nooit meer heen gaan nie. Sy stap verby en toe, “Lara, dis so
lekker om jou weer te sien!”
“Tannie
Annemarie, ek was vier jaar gelede in tannie se Sondagskoolklas!”
“Kom in my
kind ek maak vir ons lekker koffie.”
Die twee
gesels en kuier lekker en toe vat sy Lara se hand, “Lara, dit gaan sleg met jou
…”
“Ja tannie,”
en sy begin bitterlik snik.
“Vertel
my alles, toe?”
Lara praat
oor haar eensaamheid en hoe die sosiale media haar wapen teen almal is. Ouers
wat net werk en werk en die donker wolke wat snags oor haar dryf.
“Lara, ek
het ʼn plan, ek en Oom Johan help arm mense. Kom môre saam en help ons? Toe jy sal
dit baie geniet. Dit help ons soveel as ons ander help.”
Dis
Maandag en hulle drie ry na Bellville stasie toe en Johan beveel, “Dames bly
naby my, ek vertrou niemand hier nie!”
Hulle
loop met ʼn trollie vol kospakkies na die skuilings en deel uit en hoor almal se
stories. Annemarie wys, “Kyk daar in daardie groot boks kruip ʼn seun weg, kom
ons hoor wat daar aangaan.”
Johan
maak die deksel oop, binne sit die tiener seun wat sy kop in sy arms toe hou.
Johan vra. “Outjie wat gaan hier aan, hoekom kruip jy weg?”
Hy bly
net stil. Johan hou sy hand uit na hom. “Ons help mense en gaan niks aan jou maak
nie. Kom klim uit … ” Stadig klim hy uit, hy bewe en kyk heen en weer. Johan en
Annemarie kyk vir mekaar en knik, “Kom nou na ons kar toe en ons gaan weg van
hier.”
Hulle ry
weg en stop by die park, Johan hou alles gesluit en Annemarie vra, “Wat is jou
naam?”
“Uh uh … Pieter
tannie.”
Ure lank
vertel hy hartseer wat alles gebeur het terwyl Annemarie hom vashou. “Pieter
kom, ons het ʼn plekkie vir seuns soos jy by ons kerk se kinderhuis. Kom ons
neem jou daarheen, wat sê jy?”
Pieter
knik, hy weet daar is nou uitkoms nie en hy sal daarheen moet gaan.
Lara se ouers kom terug,
hulle verstaan nie die verandering in haar nie, “Lara, maar jy lag weer, wat
het gebeur?”
“Pappa en
Mamma, ek gaan nou naweke vir Tannie Annemarie help by die kerk en in die week
gaan ek hard leer!”
Soos altyd kyk hulle weer weg en vra niks nie. Sy
is darem verbaas dat hulle die verandering in haar raak gesien het.
Vir die volgende drie weke in die vakansie draf
Lara af en help Annemarie en Johan met los werkies, sy pak kospakkies en
versorg dit so mooi. Sy werk lekker en geniet dit baie. Sy sien soms vir Pieter
as hulle die kinderhuis se pakkies neem. Pappa en Mamma raak al vriendeliker en
lag meer as ooit tevore.
Die vakansie is verby en dit is Vrydagaand, vreemd
genoeg kom hulle voor vier uur al by die huis aan, “Lara kom hier en luister
nou mooi.”
“Pappa ek kom!”
Hulle sit elkeen met ʼn koeldrankie en Pappa en Mamma
glimlag, “Liewe Lara, jy is ʼn ander mens en ons is so trots op jou. Ons het in
die spieël gekyk en weet alles is ons skuld, ons is altyd weg en al wat saak
maak is ons werk, maar nou gaan dit verander.”
“Regtig Pappa? Ek is so bly!”
“Die nuwe reëls in ons huis is dat ons vóór sesuur
in die week en vóór vier uur op Vrydae hier sal wees. Verder gaan ons alle
elektronika afskakel as ons saam is. Saterdae en Sondae sal ons graag met jou
en Annemarie pakkies opmaak. Sal jy daarvan hou?”
Al drie hou mekaar styf vas ...
Pieter pas stadig aan by die Parow Kinderhuis en dit word selfs lekker
om daar te bly en al die vriende te maak. Matrone is lieflik en help hom met sy
graad elf huiswerk. “Pieter, ek dink diep in jou is jy ʼn wiskundige. My vorige
werk was ’n wiskunde onderwyser en ek en jy gaan mooi dinge reg kry.”
Sy punte styg in wiskunde en hy behaal oor tagtig persent!
Dit word sy matriekjaar en Matrone kry ʼn naamlose brief, “Aan die Matrone van
Parow Kinderhuis, Hiermee doen ek ʼn skenking aan ʼn matriek leerling by julle.
My rigting is wiskunde en daarom wil ek graag ʼn wiskundebeurs skenk aan ʼn
wiskunde presteerder. Kan u iemand aanbeveel?”
Matrone gryp haar foon en SMS, “Pieter Nel!”
Die tyd verloop en ʼn skenking volg, ʼn beurs wat vir
ses jaar se studies en koshuis verblyf dek. Daarmee saam ʼn naamlose brief,
“Pieter as jy suksesvol wil wees in die lewe volg die reëls van skaak: Jy moet
skuif, want uitstel bring niks. Dink voor jy skuif, dink weer voor jy skuif en
dink diep voor jy skuif, dán skuif jy!”
Wie dit
was, niemand sal ooit weet nie, tog wys die bankstaat van ʼn CJ Nel. Matrone bewaar
die staat in haar brandkas ...
Lara en
Pieter sit elke dag in dieselfde klasse by die Universiteit en waai vir mekaar.
Na ʼn paar maande toe wink sy vir hom, “Pieter, kan ons na klas na Die Neelsie
gaan dan help jy my help met my die Wiskunde probleme?”
Elke week
doen hulle so en Lara blink ook uit met haar Wiskunde punte. Hulle raak verlief
… Oor tyd vertel wat met hulle oor die jare gebeur het en help mekaar om dit te
vergewe en te vergeet wat ander aan hulle gedoen het.
Elke maand
word daar meer as genoeg in Pieter se rekening betaal. Aan die einde van sy
tweede jaar toe lui sy foon, “Meneer Nel, dit is Kobus Ackermann van
Stellenbosch se Volkswagen Handelaars. Jou Golf is afgelewer en reg vir jou om
te kom haal.” Pieter is verbaas, weer ʼn wonderwerk en van waar?
Lara en
Pieter is so lief vir mekaar en haar ouers is so bly daaroor.
Die gradeplegtigheid
in Stellenbosch sluit af en die registrateur kondig aan, “En nou die twee kandidate
wat vanjaar meestersgrade Cum Laude in Bedryfsingenieurswese verwerf het is, Lara
Johanna de Beer en Pieter Albertus Nel!”
Na die
seremonie stap hulle af in hul togas met die grade in hulle hande, die twee advokate
met Johan en Matrone klap vir hulle hande en gee hulle ʼn drukkie, “ons is so
trots op julle!”
Daar vêr
agter in die saal sit ʼn man sonder bene met grys hare in ʼn rystoel, hy klap sy
hande oor en oor …
Hulle stap
uit die saal en Pieter sê, “Kom ons gaan wys vir Tannie Annemarie wat ek
gisteraand aan Lara se vinger gesit het!”
Hulle ry
almal na haar met ʼn groot bos rooi rose. Al ses hou mekaar styf vas, Lara kniel
voor haar en vee trane af, “Tannie is alles vir ons, die lig wat elke dag deurbreek!”
Hulle gee
vir haar die rose, sy is nou al drie jaar in die hemel …

Comments
Post a Comment