Die nota lê langs die Voëlhokkie

 

Waarskuwing, sterk taal word hier en daar gebruik!


“Klop, klop!!!” dis nou vroeg in die oggend en sy nog in haar pajamas, “Wat is dit nou?”

Lara loer deur die geroeste sleutelgat en daar staan daardie dikbek Piet ou wat by die hof werk. Bang maak sy die deur oop.

“Juffrou Poggenpoel, hier is ‘n brief van die balju.”  Hy draai om, loop net weg en ry op sy fiets terug na sy werk toe.

Bang skeur sy die koevert oop, “Mejuffrou Larëtte Annabelle Poggenpoel, neem hiermee kennis dat u die kamer wat u huur van Meneer Petrus Albertus Koekemoer binne ag en veertig uur sal moet verlaat as gevolg van vier maande se onbetaalde huur.”

Sy sak op haar knieë, “Dis nie waar nie, ek betaal dat elke maand?” Sy loop bang werk toe, wat gaan Petrus nou doen?

 

“Lara, waars jy? Jy is al weer laat!” skree ou Petrus en kom hinkepink met sy kierie na haar toe. Sy huil en kyk net weg. Hy trek ‘n diep suig aan sy ou pyp vol Springbok twak, “Ek en Susan gee vir jou werk en die kamer en jy donner weer alles op, jy is nou afgedank en gee pad hier en gou ook!”

“Maar oom Petrus wat is dan verkeerd?”

Hy draai net om en skuifel weg uit die padstal waar sy al die laaste jaar werk sedert sy uit die skool is sonder om eers standerd ag klaar te maak toe die weeshuis gesluit het.

 

Sy stap verlaas deur Petrus se voëlhokkies, haar liefling plekkie. “Halloo, hoesit daar?” roep Jacob.

“My liewe Jacob ek is so lief vir jou maar nou moet ek weggaan …” Jacob vlieg nader en kom land by haar voete, hy kyk oor sy lang snawel hartseer op na haar, “Witborskraaie lief mense. Bly!”

Sy loop net weg met die trane oor haar wange verby die duiwehokkie. Dis ou Petrus se gunsteling om sy duiwe vêr weg te stuur en kompetisies te probeer wen. Pienka kom dikwels aangevlieg met ‘n papiertjie aan sy beentjie. Wat is dit? “Jacob, waar is Pienka dan vandag, moet hy weer die resies probeer wen?”

“Pienka in lorrie!” Jacob kyk na die horison, “Hy weggg!”

 

“Wat moet van my word?” sy vroetel in die padstal en kry haar paar dingetjies by mekaar, “Waar gaan ek van volgende week af bly?”

Sy dink oor wat die dierbare Tannie Annemarie van die Spar winkel vir haar vertel het, “Lara wees baie versigtig vir ou Petrus, hy dobbel en konkel met onheilige tipes. Posduiwe is hul smokkel gereedskap!”

Dit help haar niks want sy het geen ander heenkome. Petrus is baas en dis dit.

Haar paar dingetjies by die padstal is in drie Spar sakkies gesit, sy stap stadig uit en kyk na die vuil plek waar sy sewe dae per week vir amper niks moes bak en brou. Die son gaan amper onder, nou gaan probeer slaap en more opstaan alles in haar ou koffer pak en dan net uitloop, waarheen?

Sy stap uit na die straat, “Lekker!” gil ou Petrus vanaf sy stoep oorkant die straat en vat weer ‘n diep suig aan ‘n lang glas Klipdrif en Coke. Sy kyk net voor haar …

“Hoekom is hy vir my kwaad, wat het ek dan verkeerd gedoen?”

Sy sluit haar toe in die kamertjie. Sy probeer slaap maar niks gebeur nie, dit word middernag toe … ‘n harde skop aan die deur, sy loer weer deur die sleutelgat, daar staan Petrus met twee getatoeërde jong manne, hy skree, “Jou klein feeks, maak oop die donnerse deur of ons gaan dit oop breek!”

Sy gryp haar skoene en spring desperaat deur die badkamervenster en hardloop weg so vinnig sy kan. Die een ou skree, “There she go!” Hy volg haar en kom al nader en nader …

Lara hardloop so vinnig sy kan maar sy hoor die voetstappe agter haar, hy skree “Stop you bitch, I will kill you!”

Voor haar is die boomstomp wat sy altyd op rus, sy spring oor dit en gaan aan, agter haar hoor sy ‘n wrede gil, sy kyk vinnig om en lê hy daar op die stomp. Sy hardloop net aan terug in die dorp tot daar voor haar die polisiekantoor, sy slaan aan die deur, “Help my, help my!”

Die deur gaan oop en daar staan ‘n dame met drie sterre op haar skouers, sy vat Lara se hande neem haar in en sluit die deur. “Dame, ek is kaptein Annemarie Prinsloo, sluk hierdie water, wees doodstil en dink diep. Ek kom nou nou terug en dan vertel jy my alles …”

Lara hou haar kop vas en die trane loop oor haar wange, sy huil en huil oor die wreedheid van die lewe. Die deur gaan saggies oop en die kaptein kom sit langs haar, sy neem haar hande en vee haar trane af, “Vertel my alles …”

Lara vertel van haar lewe in die Koppersdal Kinderhuis, die boelies daar en toe sy agtien word was daar niks meer nie. Petrus en sy vrou Sannie het aangebied om vir haar werk en verblyf te gee en die kinderhuis bestuur keur dit goed. Toe net nagmerries, sy werk dag en nag, was en vee. Geen vriende net alleen.

“Nou liewe Lara wat was vir jou lekker?”

“Kaptein …”

“Vir jou is ek nie kaptein nie, ek is Annemarie!”

“Uh, uh … Annemarie my heerlikste was om met die voëltjies te speel. Toe leer ek vir ou Jacob om te praat want ‘n kraai praat so mooi! ‘n Vreemde ding was die posduiwe en Pienka wat gereeld weggeneem word en dan terug vlieg met ‘n briefie aan sy been!”

“Lara, gaan rus in my kantoor, as my skof ses uur verby is kom jy saam met my huis toe ons maak ‘n plan."

 

Die son kom op en hulle stap oor die straat na Annemarie se huis waar sy alleen bly. “Lara trek voorlopig hier in die spaarkamer in. Ons stap oor na Tannie Annemarie as sy oopmaak en kry vir jou wat jy nog het. Dan as ons terug is kom speurdersersant Valie en jy vertel hom alles, hier sal ons moet optree en gou ook!”

 

Hulle is terug, en sersant Valie kom in. Hy vryf bang oor sy grys baard. Annemarie bly eers stil, “Lara en Valie, julle weet nou van mekaar, vertel meer oor wat daar gebeur het?”

Lara vertel en Valie vra, “So die posduif word gereeld weggeneem en kom met ‘n brief aan sy been terug? Ons moet dit in die hande kry maar hoe?”

“Oom Valie, jy sal my nou nie glo nie, maar ou Jacob die kraai vertel altyd vir my wanneer Pienka terug is. Ons moet net naby die hokke wees.’

“Kraai wat jou vertel?” Hy skud sy kop, “Na het ek alles gehoor! Reg so en tot hoe laat slaap die Koekemoers?”

Lara dink diep, “Hulle kuier en braai laat saans en raas. En daar soggens langs braaiplek ‘n klomp Klipdrif bottels wat rond lê.”

Valie spring op, “Ek het ‘n plan, ons kruip in die kaal erf agter hulle elke oggend weg en jy roep vir Jacob, reg so?”

 

Drie later later sit hulle weer agter die bloekomboom en Lara roep gereeld, “Jacob!!!” Niks gebeur nie. Toe skielik kom hy aangevlieg en kom sit op haar skoot. “Hellous Lara!”

“Jacob, is Pienka terug?”

“Pienka hier!”

Valie vlieg op, “Kom Lara!” sy loop in sy skaduwee, hulle klim oor die stukkende heining en loop by die duiwehokke in, daar sit Pienka weer met ‘n brief aan sy been!

 

Majoor Van Wyk van Forensies kom in, die hele stasie se personeel wag vir hom. Lara kruip weg in die hoek. Kaptein Annemarie staan op, “Liewe stasie bemanning, ons het ‘n groot afkondiging om te maak, Majoor vertel ons wat julle uitgevind het?”

“Dit was die vreemste ding wat nog in my loopbaan gebeur het. Aan die duif se been het Sersant Valie die brief afgehaal en ons het daarna gekyk. Dit is duidelik ‘n poging om boodskappe te stuur en die kuber krakers te vermy.”

Hy haal ‘n groot papier uit. “Hier is ‘n kopie van dit en op dit is sulke vreemde Arabiese woorde. Ek het toe vir Google Translate gevra om dit vir my te vertaal en toe dit, ‘We need blond girl less than twenty years old, if you deliver it another fifty thousand dollars will be paid into your account in Saudi Arabia.”

Almal word stil hulle kyk vir Lara en knik vir haar, hulle is so trots op haar en hulle kollegas!

 

Dit is Saterdag, op die voorblaaie van Die Burger, Son, Times en Argus, “Menshandel blootgestel!” Dan begin die berigte met, “Gister in die Bellville Landroshof het Petrus Koekemoer (74), Susanna Koekemoer (72), Saliem Mustaan (19) en Mohammed Kassat (23) verskyn op meer as twintig klagtes van menshandel. Die saak is vir twee maande uitgestel, hulle kry geen borgtog.”

 

 

Nawoord:

Kraaie praat mooi en kan ‘n dosyn of so woorde praat. Microsoft Image Creator gebruik vir die afskop prent. Matty de Greeff vir sy rekenaar ondersteuning. Die Durbanville Skrywersgroep wat die skrywersblok saam beveg!

 

 

 

 

Comments

Popular posts from this blog

Die Lelike Eendjie (Woordfees inskrywing)

Vaarwel, maak die deur saggies toe

Die nuwe lewe (Woordfees inskrywing)