En toe kraai die Haan (Woordfees inskrywing)

 

“Hy’s dood!” skree Ruben deur haar venster, “Dis pa!” 

Mia gil, “Wat! Waar?”

“Hy lê net daar in die skuur, seker ʼn hartaanval!” Sy hardloop by die huis uit na die skuur toe, Ruben strompel agterna met sy groot maag en lomp bene.

Die lyk lê skeef onder die John Deere, alles is verby … “ Maar Ruben hoe het hy hier gekom? Waar’s sy rystoel?”

“E-e-ek weet nie, toe ek hier kom toe is hy net hier!”

“Ek gaan die polisie bel, dis iets anders, hier’s ʼn helse fout!” skree sy op hom.

 “Waag dit net, weet jy hoeveel twak gaan dit veroorsaak? Ek gaan hom nou terug stoot en in sy bed sit en vir dokter bel om te kom kyk en hom af te teken.”

Mia hardloop huis toe en gryp die foon, sy draai die slinger oor en oor, “Sentrale, sentrale, waar’s jy?”

Alles is grafstil, is die draad af? Ruben strompel in, “Waddehel doen jy? Is jy van jou kop af? As die polisie hier kom het ons groot moeilikheid. Pa het net dood in sy bed gelê, het jy my!”

 

Mia sit op die koppie en kyk uit oor die opstal. Die strooidak met die twee skoorstene kyk uit oor die lang rye wingerde. Tessa sit by haar voete en lek haar stert stadig terwyl Kasper teen haar skuur en saggies spin, “Mamma laas jaar aan die kanker en nou pappa. Hier’s ʼn groot fout, hoe het hy in die skuur gekom, hoe? Ons was so lief vir mekaar, hy was alles in my lewe … hoekom?”

Sy stap terug na die skuur en kyk na die groen John Deere, “Hoe het dit gebeur? Hy kon amper nie meer loop nie, hoe het hy hier gekom?”

By die trekker se voorwiel lê sy liefling koppie in flenters, het hy hier kom koffie drink? Sy kyk rond, onder die agterwiel is ʼn klein rooi blikkie, “Rawsonville Koöperasie Rotgif”, sy maak dit oop, dis halfvol growwe wit poeier en lyk net soos suiker. Sy skud haar kop, steek die blikkie onder haar hemp weg en gaan sit dit onder die sitplek van haar Golfie.

 

Petrus kyk ernstig na Ruben. “Jul pa is nou onverwags oorlede en nou sal ons die testament moet deursien.”

“En hoe gaan dit uitwerk?” vra Ruben. “Ek en jy gaan mekaar al die pad help. Ou Petrussie, ek weet van jou dinge en dit bly tussen ons, reg so? Nou help jy my en ons gaan altwee wen!”

Petrus kyk na sy voete en sy hande bewe, “Dis jy en jou aangenome suster wat in die testament genoem word, net julle. Maak die deur toe dan lees ek gou vir jou wat Oom Sarel my gegee het.”

“Die plaas Amandelpoort word in twee verdeel. Ruben jy kry die wingerd en jy kan kies aan wie jy die druiwe wil verkoop. Mia kry die opstal en die kelders en kan ook kies of sy dit by jou wil koop of by die bure. Die trust word in twee verdeel tussen julle.”

“Wat? Nooit!” bulder Ruben, “Die klein feeks erf die opstal en kelders, sy is nie eens pa se kind nie, vergeet dit!”

“Kalmeer, onthou daar is altyd ʼn plan wat mens kan maak.”

“Petrus hoor my mooi, die vroumens is meer as twintig jaar jonger as ek, ma en pa het haar aangeneem iewers uit ʼn agterbuurt, sy’t net een ding in haar kop en dis om te lees en te leer. Sielkunde onsin en gedigte. Sy kom naweke van Stellenbosch af en neem die plek oor, haar aaklige kat sit heeldag op haar skoot en dik hond lê by haar voete. Ek gaan hulle vrek skiet!”

Petrus se hande bewe steeds, “Ons moet bymekaar staan, altyd. Ek en jy is ʼn span en ons help mekaar. Ons vriende, wat dokter insluit, staan by altyd mekaar. Eers kom Pik en vertel op die draadloos dat daar geen soldate Angola is nie en net gister het PW op die kassie verkondig dat ons oor ʼn Rubicon is. Wat de moer is dit nogal? My broer was dan daar en toe skiet die ters hom dood!”

Ruben is eers stil, “Die vroumens is bloed jonk en sy heul met daai linkse gespuis, die Progge, Black Sash en daardie euwels. Ag nee man!”

Petrus neem sy dik stapel dokumente, “Wees kalm, gee my twee dae, ek sal met ander vriende van ons vergader en dan ontmoet ons weer hier.” 

Dis stil in Petrus se kantoor, hy vou die papier op en kyk na Ruben, “Ons kan nie dat dit ondermyn word nie. Ruben, jy verdien alles en ek en my regsgeleerde medewerkers gaan lekker deur die wette en dinge werk. Die testament word aangepas … jy vertel vir niemand!”

 

Hulle sit in die sitkamer, die wingerde is pragtig lowergroen buite. Sy kyk na haar voete terwyl Ruben vinnig aan nog ʼn Gunston suig.

Petrus, in ʼn swart pak met donkerrooi das, vou die dokument oop, “Luister nou mooi dan kan ons dit afhandel, ek lees stadig, ‘Ek, Sarel Francois Burger, bemaak die plaas Amandelpoort insluitend die opstal en die kelder aan my seun Ruben Albertus Burger. Die familietrust ter waarde van ongeveer twintig miljoen rand asook die strandhuis in Voëlklip by Hermanus ook aan RA Burger. My aangenome dogter, Mia Susanna Jordaan, kry die Volkswagen Golf kar. Alle ander items is deel van die familietrust en bly in die huis.’ ”

Sy kyk verskrik op, tuur toe na haar voete en toe skree sy op hulle, “Wat gaan hier aan, ek en my stiefpa was so lief vir mekaar en nou jaag hy my weg? Hoekom is hy dood, wat doen julle agter my rug? Ek glo dit nie!”

“Juffrou, ek doen bloot wat Meneer Burger my gevra het,” sê Petrus, “Aanvaar dit asseblief so, u is nie sy dogter nie en dit is sy besluit.”

 

ʼn Week later bring die balju van die landroshof in Worcester vir haar ʼn brief, “Mejuffrou Mia Susanna Jordaan, U word hiermee in kennis gestel dat u die eiendom Amandelpoort binne twee dae moet verlaat. Geen huishoudelike items of diere mag saam geneem word nie. Op las Prokureurs Petrus J Nienaber en Genote.”

Sy staar oor die Breëriviervallei, die sneeu blink nog effens op die Slanghoekberge en die rivier vloei skaars deur die kloof. Die berge brand en rook wolke hang oor alles. Kasper lê op haar skoot en krap aan haar bene terwyl Tessa vir haar kyk met haar dik stert ingetrek, saggies knorrend. Sy dink aan al haar boeke, die derdejaar sielkunde handboeke en haar liefling bundel waar Ingrid vir haar vanaf die agterblad glimlag. Ingrid is jonk oorlede en dit is al wat Mia nou te doen staan …

Sy weet alles is nou verby, maar skielik kolk ʼn woede in haar, sy kyk na die opstal en praat hardop, “Ek gaan dit nie los nie, nooit nie!”

Twee dae later is net haar klere en boeke in die Golfie en sy ry stadig uit. Daar’s niemand anders op die werf nie, Kasper en Tessa is ook weg. Sy stop om die hek oop te maak en daar dit lê in die pad, die klein gemmer lyfie met die groot “M” tussen sy ogies en langs dit die groot bruin lyf. Alles bespat met bloed, Tessa se stert en ore is afgesny en Kasper se ogies is uitgesteek ...

 

 “Goeie môre Johan!”

“Sit asseblief Pieter,” Johan sit agter sy lessenaar, vee die sweet van sy voorkop af. 

“Johan, waarmee help ek?"

“Ons het ʼn nuwe persoon ingekry, dis iets anders en vir die eerste keer in ʼn lang tyd is dit ʼn vrou, Mia Jordaan.”

Pieter kyk vir sy voete, hy dink lank en kyk toe op, “Ek het dit verwag na al die nuus. Die koerante is vol daarvan, tog weet ons so min. Johan waarmee help ek?”

Johan draai die lêer om voor Pieter, “Kyk net hier hoe het dit verloop, ek het na julle ouens gekyk, jy’s ook ʼn sielkundige en die beste persoon om die pad met Juffrou Jordaan te loop. Hier is groot moeilikheid, die pers gaan elke tree dophou en artikels skryf wat dinge weer sal verdraai. Ons sal maar moet vasbyt. Jy is die beste hier om dit vir ons te doen.”

“Reg Johan, ons kom ʼn lang pad met die mense, elke keer maar so sleg, ek sal jou nie in die steek laat nie.”

“Ek het geweet ek kan op jou staatmaak, elke keer nog het jy dit perfek hanteer ten spyte van al die drama daarmee saam. Sy kom môre. Ons hou haar eenkant, soos altyd kan dit tot ʼn jaar en ʼn half so aangaan. Jy kan enige tyd met my kom praat oor haar … moenie alleen wees nie.”

 

Die son kom op, Pieter is vroeg by die werk en loop deur die lang donker gange. Hy dink terug aan verskrikking wat nou weer voorlê, hy huiwer voor die deur, stuur ʼn stil gebed op, haal diep asem en klop aan die deur. Niks gebeur nie, dis doodstil. Hy skraap moed bymekaar en roep, “Mia? Mia Jordaan?” 

Na ʼn lang stilte, “Ja, kom binne.”

Hy maak die deur stadig oop en daar sit sy op die katel ... Hy is sprakeloos want sy is blond, skaars twintig, petite en staar na haar tone. “Juffrou, ek is Pieter Cilliers, hier om die pad met jou te loop …”

Sy swyg.

 “Ek sal elke oggend nege uur inloer en weer drie uur.”

Sy lig haar kop. “Meneer, ek verstaan alles maar ook niks …”

“Mia, praat met my dis waarvoor ek hier is. Ons kan niks verander nie en jy weet dit na die lang pad. Weet net dat jy met my altyd kan praat.”

Pieter ry huis toe, sluit sy vuil Sunnyside woonstellietjie oop, kyk na die eenvoudige meubels en sy honderde boeke. Hy voel weer so alleen. Op sy die tafel lê Ingrid se bundel oop, hy lees dit weer en weer, “Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son, ‘n spieël het gebreek tussen my en hom …” 

Hy kan nie slaap nie, Mia Jordaan is al waaraan hy dink. 

 

Die weke gaan verby en Mia is altyd in sy gedagtes, in sy hart. Hy stap in by haar, “Hallo Mia, hoe lyk dit vanoggend? Kyk wat kry ek op my rak, Ingrid Jonker se bundel! Ek weet sommer jy sal dit soveel geniet!”

“Dankie Pieter! Is jy net so lief vir haar gedigte soos ek?”

“Niks kom daarby nie laat ek nou vir jou vertel!”

Elke oggend bring hy nog boeke en Mia se oë skitter as sy daardeur blaai. Sy lees amper ʼn hele boek elke dag en dan werk hulle daar deur en deel idees, gedigte oorheers alles! Hulle praat oor boeke vir ure om net weer na Ingrid terug te kom. Hy bring vir haar ʼn lekker koffie met ʼn suikersakkie, “Dankie! Ag jammer Pieter maar ek gebruik suiker nie, suiker is mos gif ...”

Wanneer hy haar groet, kyk sy op en hou haar vinger op die laaste plek in ʼn boek, “Jy is ʼn ster!”

 

Mia rol op die katel, sy slaap byna nooit, sy sien haarself oor en oor: Hoe sy die rooi blikkie se inhoud in die Huletts suikersak gooi. Gedoen net voor sy moes weggaan en Petrus weer sou kom om met Ruben die sake te finaliseer.

 

Die einddatum kom onverbiddelik nader. Pieter gaan daagliks na Johan toe, “Pieter is jy oraait? Kan ek help?

“Johan, dit is weer so moeilik, baie dankie vir jou tyd daar sonder sou ek lankal moed opgegee het.”

Al die prosesse is gevolg, die dokumente is by owerhede en terug. Pieter slaap en eet met moeite, die donker wolk skuif nader en nader. Pieter volg elke proses wat hy geleer het, maar weet daar is geen uitkomkans nie. Hy gaan sit weer by Johan. Sy hande bewe onder die tafel.

“Pieter ek wil met jou praat.”

“Nog net ʼn week dan is alles verby. Is jy seker jy’s reg daarvoor?”

“Mens sal nooit reg wees nie. Dit is nou die sewende keer en jy ken die pad. Niemand kan help nie, ek moet self hier deur …”

Johan staan op, loop om die tafel en sit sy gespierde arms om Pieter. Hulle ruk van die snikke, hulle huil mekaar se moue nat  

 

Hy kom by haar se kamer. Geen boek saam gebring want alles is nou by haar. Hy stotter, “M-mia …” 

“Pieter ek’t iets vir jou.”

“Wat … ?”

“Hier is vir jou ʼn briefie, dis iets anders en gooi dit maar weg want ek’s nie die moeite werd om eens aan te dink nie. Dit is alles my skuld en almal weet dit. Ek het dit gedoen, twee keer, net ek weet hoekom. Dis die pad om nou te loop. Kyk jy liewer na jouself.”

Mia tree tot teenaan hom, hy omkring haar in sy arms. Nie een van hulle kan die trane keer nie.

Buite vou hy die briefie oop, “Pieter, wat ek gedoen het is ʼn lang verhaal. Ek het nie woorde om jou te bedank vir wat jy vir my beteken het nie. Jy het vir my omgegee, ek sal dit altyd koester …”

 

Die laaste van die slapelose nagte gaan verby, dit is skaars sesuur die oggend en die son begin om oor die Magaliesberg op te kom. Dit is die mooiste lentedag en die Jakarandas is vanjaar pragtig. Pieter parkeer die ou Corollatjie, hy kyk na die horison en hy prewel, “Here hou my vandag vas, ek gaan dit nie maak nie …”

Koos en Johan wag al. Hulle is sonder woorde, beide staan op soos altyd. Hulle hou vir Pieter vas, “Jy is nie alleen nie!’

In haar kamer is sy sag gegrimmeer met donker rooi lippe. Haar blou oë flikker en sy lag vir hulle, “Môre ouens!”

Hulle stap saam met haar tot by die lokaal. Koos en Johan bly buite terwyl Pieter en Mia in gaan en die deur agter hulle toemaak. 

Die rou trane loop oor hul wange, sy fluister, “Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son …”

“Mia staan nou hier, laat jou arms langs jou sye hang."

 

Hy kyk verlaas in haar oë en toe, toe sit hy dit om haar nek, daardie lang dik tou


Comments

Popular posts from this blog

Die Lelike Eendjie (Woordfees inskrywing)

Vaarwel, maak die deur saggies toe

Die nuwe lewe (Woordfees inskrywing)