Speurder Valie se foon lui

 


Hy gee ʼn harde snork, dis middernag en styf teen hom lê Kasper Kat wat so lief vir hom is. Valie snork ʼn tweede keer toe gebeur dit, die ergste, sy foon lui!

“Demmit, ek het nie die blêddie ding afgesit nie!” hy soek die lig skakelaar stamp die bottel Klippies om en dit loop alles op die mat uit, “Ja, wats dit?”

“Oom Valie, dis Konstabel Sannie Jacobs van Ontvangs hier …”

“Sannie, dis middernag wat nou weer?”

“Oom ek kan nie slaap nie, weet oom wat het vandag in die kantoor gebeur toe die Meneer Fuchs weer op ons kom skree het?”

Valie sug diep, hier kom groot moeilikheid ….

 

Dit was so ʼn jaar gelede toe roep Majoor Tsheko vir Valie na sy kantoor toe. “Sersant Valinde kom sit en luister nou mooi vir my!”

Valie sug diep en strompel in die stoel in en kyk net vir sy tone.

“Valie, jy is nou al amper op aftree ouderdom en ek is so bekommerd oor jou.”

“Majoor, ek voel vere, dekades my self afgesloof en nou het die vark gekom en julle offisiere teen my kom op steek!”

“Valie, luister nou mooi. Ek en jy weet Hans Fuchs is ʼn prokurower op sy ergste, hy het die kommisarisse in sy agtersak en die landdroste ook. Toe kom jy en wys dit uit en almal draai teen ons. Valie ek is aan jou kant en sal altyd so wees! Om hier te kom werk is vir my vreemd en moeilik, jy het heeltyd my hand vas gehou, ek sal dit altyd onthou ...”

Majoor steek sy hand uit en vat vir Valie aan sy skouer, “Jy is ʼn ster!”

“Majoor ek het minder as drie jaar om hier te werk, wat nou?”

“Sersant Valie, om hier in Wynberg tussen die ryk mense die stasiebevelvoerder te wees is vir my ook ʼn nagmerrie maar ons sal dit oorwin!”

 

Die son het nog nie opgekom nie, Valie staan stadig op en dink heeltyd aan Sannie se oproep,  trek aan en sluit sy woonstellietjie. Stap af tot by Voortrekkerweg hier in Goodwood en wag vir die Golden Arrow bus wat al weer laat is. Hy suig diep aan die Gunston …

Sy ou Nokia foontjie lui aanmekaar, maar hy ignoreer dit net, “Hulle kan wag!”

Uiteindelik kom hy aan by die Wynberg se SAPS stasie, meer as ʼn uur laat al weer. Sannie kyk op toe hy in kom, “Oom Valie, ek is so jammer dat ek oom moes bel, hier is groot moeilikheid. Majoor vra dat oom dadelik na hom toe moet gaan.”

“Ek doen so Sannie ...”

Hy klop aan die deur en loop in, in die kantoor sit Majoor en drie ander in pakke klere. “Sersant Valie, hier is Menere John Williams, Pieter Olivier en Tseka Mlange van die Staatsprokureurs. Kom sit dat ons die saak deur praat.”

Valie gaan sit in die hoekie, prokureur Williams kyk na hom, hy bly eers net stil … “Sersant Valinde, jy weet van die saak wat julle teen Peter Atkinson ondersoek het, die CA rekenmeester wat ons munisipaliteit na bewering baie miljoene verduister het.”

Valie is nou baie bang en knik net sy kop.

“Sy prokureur, Hans Fuchs, het dit saak opgeneem en ons word nou beskuldig van ondermyning en diefstal en jy is die hoofbeskuldigde!”

Valie sug diep, Fuchs die grootste skelm en nou dit?

“Julle beweer hy wat Fuchs is het die staatsaanklaers en Landdros Anne Smith omgekoop. Ongelukkig het ons niks om te bewys nie en hulle het klag teen jou en Majoor van bedrog.” Die drie staan op en loop uit sonder om te groet.

Valie en Majoor bly alleen agter, “Valie wat nou?”

Daar is weer ʼn klop teen die deur en drie groot mans in uniforms met knuppels en pistole kom in, “Majoor Tshepo en Sersant Valinde, ons is van die Valke en arresteer ons julle nou vir julle wangedrag teen die Atkinson saak.” Hulle haal die boeie uit en terwyl die hele stasie in die gange af loer sleep hulle na die vangwa en klap die deure toe.

Konstabel Sannie kruip agter haar sakdoek weg en haar trane drup op die lessenaar …

 

Dit word nag in Pollsmoore gevangenis, die twee sit doodstil in die sellietjie. “Sersant, wat moet van my drie kindertjies en my geliefde Thandiwe word en wat dink sy nou van my?”

“Majoor, die bliksems het ons bevark en daai Fuchs prokurower sit agter dit alles! Wat moet ons nou doen?”

Hulle sug diep, krap in die bordjies met vuil wit pap en die donker wolke sak oor hulle …

 

Sy sit in haar agterkamertjie op die Sondag middag. Boela haar worshondjie slaap op haar voete en sy dink diep, “Na al die jare in die kinderhuis, die Polisiekollege tot voor laas jaar, my heerlike werk saam met Oom Valie en Majoor en nou dit! Skerminkels neem ons Stasie oor en ek moet alles aan die gang hou !”

“Boela, wat dink jy moet ek nou doen? Oom Valie was vir my die pa wat ek nooit gehad het nie en majoor het hom al die pad beskerm, nou sit hulle agter tralies en dis Hans Fuchs se skuld. Help my man toe?”

Boela gee ʼn diep snork met al vier sy pootjies in die lug … “Ek het dit! Ek weet hoe om daai Hans, Atkinson en hulle SAP mede skerminkels uit te roei!”

Sy sluit alles toe en trap op haar fiets direk teen die verwoede Sedoos af in Mainstraat reguit na haar werk toe.

 

Dit is stil by die polisiestasie en net twee reserwemag konstabels sit in die aanklagkantoor en tuur na die plafon, Sannie sluip agter om en by die agterdeur in tot by Majoor se kantoor en sluit haarself in dit toe.

Sy haal haar foon uit en tik op Whatsup vir die liewe Pieter, die dikbril bleeksiel rekenaar guru. “Pieter, help my asseblief en gou ook!”

“Hello Sannie! Praat en ek doen!”

“Vind vir my alles uit oor Hans Fuchs die prokureur en daai Peter Atkinson skelm, ek wil weet van hulle donker dinge en gou ook!”

Sy maak Majoor se laai oop en soek deur die dossiere, niks kom uit nie … en toe, “Hier is dit!”

Op die bruin omslag in lelike letters, “SAPS33 H Fuchs & P Atkinson”. Sy krap deur dit maak notas en tik toe vir Pieter, “Pieter, soek vir my oor Fuchs en Atkinson en die wynskandaal in Robertson by daai Watshof plaas?”

Pieter bly doodstil vir ʼn uur, toe kom die waarhede uit van hulle se gekonkel met die ou KWV se dinge en die miljoene Rande wat verdwyn het. Fuchs ken almal in die ou binnekringe en kom weer en weer skotvry los.

 

Dit is vier weke later, in ʼn mooi lokaaltjie teen die hange van Tygerberg is die hele Tsheko familie, Sersant Oom Valie, Pieter en Sannie. Hulle klink nog ʼn glasie Grand Mousseau, hulle en veral die drie dogtertjies lag en lag!

Sannie vee ʼn traantjie af, “Oom Valie, oom is die pa wat ek nooit gehad nie. Majoor, u het na die oom gekyk en terwyl almal met hom spot.”

Pieter hou haar styf vas, hy lig haar linker hand op, “Kyk net wat het ek gister hier aan haar vinger gesit!” Hulle kap die glase en lag saam!

Oom Valie trek sy vinger oor sy lippe, “Sjjt, laat ek nou iets sê! Sannie jy was my dogter wat ek en Annemarie nooit gehad het nie en Majoor jy is my grootste held! Pieter, ten spyte van jou dik bril is jy die slimste outjie ooit!”

 

Dit is Sondagoggend, soos elke week loop Valie weer in by daardie plek in Maitland, hy loop tot by haar, gaan op sy knieë, die trane drup oor sy baard en sit die bos rooi rose voor haar neer, nou reeds vyftien jaar van hom weggeneem, om weer te gaan huil oor … Annemarie.

 

 

Naskrif, polisie dinge is uniek en uitdagend. Was self ʼn konstabel in die reserwe SAPS vir ʼn dekade en vele dinge, woes en ook snaaks, ervaar. Het dit in kort blog plasings gedoen, dit is hier: https://polisie.blogspot.com/

Comments

Popular posts from this blog

Die Lelike Eendjie (Woordfees inskrywing)

Vaarwel, maak die deur saggies toe

Die nuwe lewe (Woordfees inskrywing)