Die Wiel draai

 

 

Die geroeste Golfie ry stadig. Toe dit oor die bult kom, is die dorp uiteindelik daar, Carnarvon. Lienke trap op die briek en sug diep. “Is dit regtig nodig dat ek dit moet doen?”

Sy byt op haar tande en ry stadig in die dorp in. Die eerste wat haar oog vang, is die “CAO”-nommerplate en die trane rol teen haar wange af.

Sy ry stadig die dorp in, haar hart is gebreek toe sy kyk na haar ou skool en waar vriende en vyande gewoon het. Sy moet net doen wat sy moet doen, in by die Adelphi-koffiewinkel en verduur wat sekerlik gaan gebeur.

Dis Vrydagoggend. Die tannies ontmoet daar vir hul weeklikse skindertyd. Sy stap in en kyk na haar voete. Almal kyk op. Tannie Ansie fluister. “Kyk daar, dis daai aaklige Lientjie. Wat maak sy nou hier?”

 

Lank gelede het Piet en Johan Smit op buurplase geboer, broers wat mekaar gehaat het.

“Lienke, staan op! Dis al tienuur!” skree Piet.

“Jaa, Pa, maar ek het niks om te doen nie.”

“Jy moet my help om die skape in die stal te kry. Kom nou, en gou ook!”

Sy staan op, trek aan en loop na die stalle toe. Soos altyd vee sy haar trane af toe sy weer op die klip lees. Johanna Susanna Smit, 1 November 1972 – 15 Januarie 2021. Sy fluister. “Ai, Mamma, hoekom is jy so vroeg weg?”

 

Sy kom by die stal. Piet vat 'n lang sluk uit die blikkie in sy sak. “Lienke, kry vir ons die ramme in daai hoek en die ooie hier, dat ons hulle kan inspuit. Kry lewe, man!”

Dit word aand. Piet braai weer. Die tweede bottel Klippies is amper leeg. Lienke haal diep asem en loop stadig na hom toe. “Pappa, hoekom drink Pappa so baie? Hoekom raas Pappa altyd op my?” Piet suig aan die Stuyvesant en kyk net weg.

“Asseblief Pappa, ons kan nie so aangaan nie.”

Hy gooi die sigaret in die vuur en die bottel stukkend teen 'n klip en stap stadig na haar toe. Vir die eerste keer in jare hou hy haar styf vas. Hy ruk van die snikke en sy trane drup op haar skouers. “My liewe Lienke, jy is 'n engel. Ek mors met alles ...”

Piet huil. “Dit was ons plaas. Ek en Oom Johan was nog kinders toe hy my geboelie het. Hy was groot en sterk en drie jaar ouer. As Oupa Jan weg was, moes ek wegkruip. Anders het hy my geslaan. Ouma was dood toe ek vier was. Toe besluit Oupa dat Johan die groot plaas kry met die rivier en boorgate. Ek kry net hierdie klein deel agter die koppie. 'Piet, jy is te dom om te boer. Ek vertrou jou nie.'

Ek en jou mamma het in die klein huisie sonder krag en water gebly en jou grootgemaak. Jou neef Koos het ons kragdrade afgesny en die bakkie se taaiers met 'n byl stukkend gekap. Ek het alles met jou verkeerd gedoen en was nooit 'n pa vir jou nie.”

“Pappa, kom ons vergeet van gister. Kom ons wees lief vir mekaar en verander alles.” Hulle hou mekaar vas en vee trane af. Niks op Platfontein was ooit weer dieselfde nie.

 

Tyd gaan verby. Hulle maak vrede en word weer lief vir mekaar. Toe is hy ook oorlede nadat hy met sy bakkie in ʼn gat net na die hek by oom Johan se grens hek gery het en die bakkie het omgeslaan. Waar het die gat skielik vandaan gekom?

 

Die mense van die kinderhuis in Beaufort-Wes het gekom. “Lienke, jy is in standerd agt? Ons sal nou na jou kyk.”

        Sy het darem matriek net net klaar gemaak en begin werk by Beaufort se Spar. Sy wonder weer en weer, wat het van Platfontein geword? Terwyl sy goed op die winkel rak pak kom daar ʼn man in ʼn swart pak klere. “Is u Juffrou Smit?”

 “J... ja, Meneer ...”

“Ek is die balju van die streekshof. Hier is vir u 'n dokument om te lees en te teken dat u dit verstaan het. Ek is oor vyf minute terug om dit te kom haal.”

Sy maak dit bang oop. “Geagte Mejuffrou L. Smit, hiermee word u in kennis gestel dat daar foute in die oordragrekords was en dat die plaas Platfontein deur u oupa aan u neef, Meneer Jakobus Smit, bemaak is. Alle eienaarskap aan u word nietig verklaar.”

Sy praat met haarself. “Koos die vuil vark. Ek gaan hom bykom!”

Sy word elke dag wakker met kwaad in haar. Hoe gaan sy Koos en Oom Johan konfronteer oor wat hulle gedoen het? Sy besluit om verlof te vat en na Carnarvon te ry en met die ou mense te praat. Iemand móét help.

 

Sy stap in by die Adelphi-koffiewinkel, kyk weg van die tannies af en gaan sit eenkant. 'n Tikkie op haar skouer. Sy kyk om, grys, vol plooie en 'n breë glimlag. “Liewe Lienketjie, dis so mooi om jou weer te sien!”

Die trane loop. “Oom Japie!”

Die tannies fluister, maar Japie gee haar 'n drukkie. “My kind, dis goed om jou te sien. Ek gaan elke week na jou pappa se graf. Hy was my grootste vriend. Ek is jammer oor wat hy moes deurmaak.”

“Oom, kom ons gaan sit in die park, weg van die tannies, dan vertel ek alles.”

Onder die bloekomboom vertel sy vir amper 'n uur. Die pyn, die onreg, die verliese.

“Lienke,” sê Japie, “Ek was vir dertig jaar die posmeester. Ek weet wat hier aangaan. Pappa Piet was my grootste vriend. Ek is saam met jou in die stryd. Hulle sal boet vir wat hulle gedoen het.”

“Wat nou, Oom?”

“Laat ek diep dink en jy kom oor ʼn week weer hierheen en dan maak ons saam ʼn plan, hulle sal verniel word ek belowe jou!”.”

 

Dis ʼn week later en Lienke kom weer in Carnarvon aan en wag vir Oom Japie by die bloekomboom, sy is skaars daar toe kom hy brullend op sy Vespa daar aan. “Jy sal dit nie glo nie. Ek het met die tannies by Adelphi gepraat. Hulle het planne. Kom!”

Opgewonde spring sy agter op die Vespa en daar gaan hulle! Parkeer voor Adelphi sy kyk in die truspieëltjie en druk haar verwaaide hare mooi plat. “Kom my kind, en hou jou asem op.”

 

Binne sit die tannies met hul rûe na die deur. “Goeie more, dames!” roep Japie. Hulle glimlag. “Dis my voorreg om Lienke saam te bring. Sy gaan haar storie vertel. Dan besluit ons saam hoe om te help.”

Lienke huil. Tannie Susan staan op en hou haar styf vas. “Ons is aan jou kant. Vertel ons alles. Ons gaan help, ek belowe.”

Lienke kyk na haar voete en begin stadig die verhaal van verniel en uitbuiting deur haar oom en sy familie op hulle. Mamma en papa se onverwagte dood en hoe hulle nou die grond gesteel het.

Tannie Herma steek haar hand op. “Susan, Dominee Alheit was die wonderwerk in ons lewens, ek luister!”

        “Erik het een mooi ding vir my agter gelaat. ‘As twee olifante baklei bly net die vertrapte gras agter …’ om te baklei beteken niks.”

Daar is ʼn lang stilte en sy vertel verder. “Klein Koos en sy pa Johan moet seerkry en leer, maar as alles verby is moet hulle ook ons vriende wees.”

Almal bly stil, kyk na hul tone en Oom Japie kyk op. “Herma, sy is reg hulle moet bloei en leer en dan moet ons vrede maak!”

Lienke kyk net weg,  in haar hart is net een ding, wraak!

 

Die tye loop aan, vreemde dinge gebeur by Knorfontein, ou Johan en Koos verstaan dit nie. Oornag is daar ’n pragtige bos mooiste blomme op Tannie Angela se graf. Koos draf daarheen en glo dit nie, op die mooi brief staan. Liewe Koos en Johan, ek kyk elke dag af op julle en verlang vir julle, kyk mooi na julself en help ander. Al my liefde, Mamma Angela.

Meer briewe volg. “Ek sal julle help. Is julle met my? Groete xxx”

Koos roep vir Johan. “Pa ek dink aan die verlede. Al die kwaad. Ons het dit op Piet en Lienke uitgehaal.”

“Jy is reg,” sê Johan. “Wat nou?”

'n Nuwe brief. “UITNODIGING. Kom kuier saam in die Alheit.”

 

Hulle stap bang daarheen. Die deur gaan oop. Kerse. Ballonne. Tannies lag. Tannie Susan staan op. “Draai na die kombuisdeur.”

Lienke stap in!

“Oom Johan en Koos, om foute te maak is menslik. Om te vergewe is goddelik. Ons vergewe julle.”

Johan. “Lienke, jy is 'n engel. Geen woorde kan julle bedank nie.”

Koos huil. “Ek is jammer. Ek vat julle hande. Ons gaan saam deur die sterre.”

 

Tien jaar later. Oom Johan is oud. Lienke is getroud met die slim Eric Alheit jnr. Elsa, Koos se vrou, laat almal lag. Knorfontein en Platfontein is nou een. Hul Merinos is beroemd en word wêreldwyd verkoop vir miljoene.

 

So draai die wiel — van haat na hoop, van kwaad na koninkryk. En onder die bloekomboom skryf hulle nou nie net briewe nie, maar toekoms.

Comments

Popular posts from this blog

Die Lelike Eendjie (Woordfees inskrywing)

Vaarwel, maak die deur saggies toe

Die nuwe lewe (Woordfees inskrywing)